MAKLIKE SWARTWOUD KOEK
Ons begin met ‘n basiese sjokoladekoek. Ek het net nie die sjokolade granche gedoen nie.
Ek het dit heeltemal room om versier en dan ‘chocolate bark’ om dit gesit.
- Beslag:
- 5 ekstra groot eiers
- 310 ml suiker
- 200 ml water
- 200 ml olie
- 500 ml koekmeel
- 50 ml kakao
- 2 ml sout
- 5 ml koffiepoeier
- 20 ml bakpoeier
Voorverhit die oond tot 190 ºC. Spuit twee 24 cm losboom laagkoekpanne liggies met Spray en Cook.
Skei die eiers. Klits die eiergele, suiker, water en olie saam vir 5 minute.
Sif die koekmeel, kakao, sout en koffiepoeier oor die eiermengsel en klits weer vir ‘n verdere 3 minute.
Vou die bakpoeier hierby in.
Klits die eierwitte styf en vou dit by die beslag in.
Verdeel die beslag tussen die twee koekpanne en bak die koek vir 30 minute.
Wanneer die koek uit die oond kom, maak die kante los en laat dit in die panne koud word voor dit uitgekeer word.
Nou begin ons met die Swartwoud-gedeelte van die koek.
- 250 ml room, styfgeklits
- 400 g blikkie ingemaakte swart kersies (black cherries – ek gebruik Mayfair s’n)
- Kirch (kersie-likeur)
- En vir die ganache:
- 100 g sjokolade
- 125 ml room
- 30 ml botter, in stukkies gesny
Sny elke koeklaag in twee, dws jy gaan vier koeklae hê.
Dreineer die kersies goed en sny dit in stukkies. Roer dit by die room in.
Jy kan ook ‘n bietjie van die Kirsch by die room inmeng, indien verkies.
Plaas die koeklae langs mekaar op ‘n stuk waspapier op die kombuis toonbank.
Gooi ‘n bietjie Kirch in ‘n maatkoppie en sprinkel van die Kirsch bo-op elke koeklaag.
Nota:
Ek het altyd Kirch in ‘n spuitbottel gehad toe ek vir die tuisnywerheid gebak het – dit maak dit baie makliker.
Verdeel nou die room in drie dele en skep dit op drie van die koeklae. Smeer mooi gelyk en plaas die koeklae op mekaar – eindig met die koeklaag sonder enige room.
Maak die ganache deur die sjokolade, room en botter oor lae hitte te smelt. Roer tot glad. Laat die effens afkoel en giet dit bo-op die koek. Smeer die ganache na die kante toe sodat dit effens teen die kante van die koek afloop.
Versier die koek met groot sjokoladekrulle, gekrummelde Flake, ekstra styfgeklitste room of selfs marachino-kersies met hul stingeltjies aan.
Verkoel die koek in die yskas as dit nie dadelik geëet gaan word nie.
Resep: Marina Engelbrect
Foto: Andrea Skoch