Your Recipe Blog

MAKLIKE OORNAG SKAAPBOUD

Recipe by
| Servings: Lewer 6 – 8 porsies

MAKLIKE OORNAG SKAAPBOUD

Hier is ’n maklike skaapboud-resep wat lekker is, maak nie saak of dit warm of koud bedien word nie.

  • 4 groot uie, in dik skywe gesny
  • 8 (of soveel jy wil) groot knoffelhuisies, grofgekap
  • 8 groot takkies tiemie
  • 6 groot takkies roosmaryn
  • 20 ml gedroogde oreganum
  • 8 dik skywe suurlemoen, die skil en wit gedeelte verwyder
  • 1 lekker groot ontbeende lamsboud, oopgesny en platgedruk
  • sout en growwe swartpeper na smaak
  • 250 ml rooiwyn
  • 250 ml lamaftreksel (jy kan beesaftreksel ook gebruik)
  • 250 ml Griekse jogurt
  • 125 ml olyfolie
  • Opdiening: takkies roosmaryn en kruisement

Meng die uie, knoffel, tiemie, roosmaryn, oreganum en suurlemoen saam.
Plaas die helfte van die mengsel onder in ‘n groot baksakkie wat jy binne-in ‘n oondskottel plaas.
Geur die lamsboud met sout en peper en plaas bo-op die uiemengsel in die sakkie.
Pak die res van die uiemengsel bo-op die vleis.
Meng die wyn, aftreksel, jogurt en olie saam en giet oor die vleis.
Bind die sakkie toe (los bietjie speling vir uitsit van die hitte).
Dit kan oornag in die yskas marineer as jy tyd het.
Om gaar te maak, steek ‘n gaatjie in die baksak bo by die vasmaakplek en bak teen 190ºC vir ‘n uur. Verlaag dan die hitte na 180ºC en bak verder tot sag (ongeveer so 2½ ure).
Maak die baksakkie versigtig oop en plaas die boud op ‘n mooi opdienbord.
Maak toe met foelie en hou warm.
Giet die sappe in die baksakkie deur ‘n sif in ‘n kastrol in.
Skep die oortollige vet af en kook die sous vining sonder ‘n deksel tot dit verdik na jou smaak.
Sny of breek die vleis in porsies.
Rangskik dit bo-op kapokaartappels.
Giet die sous oor en garneer met vars kruie.

Resep geplaas deur Amanda Conradie

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page