MAKLIKE MALVALEKKER FONDANT
My seun het hierdie verjaarsdagkoek gebak vir sy dogter. Ek deel die fondantresep wat hy gebruik het, met julle. Dit is die eerste keer dat hy met fondant werk.
- 1 sak (280 g) mini malvalekkers
- 2 – 3 eetlepels water
- 4 koppies versiersuiker
- geurlose olie (bv sonneblomolie)
Plaas die malvalekkers en water in ‘n bak en smelt in die mikrogolf.
Verwyder uit die mikrogolf, voeg die versiersuiker by en klits stadig met ‘n handmenger.
Sodra die fondant bymekaar kom, plaas op ‘n olie-gesmeerde oppervlakte en knie totdat dit glad is en nie meer aan jou hande vasklou nie.
(Maak seker jou hande het ook ‘n lagie olie aan terwyl jy knie).
Voeg nog versiersuiker by indien nodig.
Op hierdie stadium kan die fondant verdeel en gekleur word soos nodig.
Knie kleursel goed deur.
Stoor in ‘n lugdigte bak of plastieksak in die yskas tot benodig.
Rol uit en druk vorms uit of gebruik soos verkies.
Nota:
Die fondant is mooi stewig en die vorms word nie kliphard nie.
Dit moet nie ‘n skerp olie wees wat dalk ‘n smaak kan los nie. Ek dink hy het sonneblomolie gebruik.
Geplaas deur Bernadene Prinsloo
Foto: Bernadene Prinsloo / Anre Olivier