MAKLIKE MACARONI EN KAAS
Ek het vanaand vir ons as gesin van 3 die gereg gemaak. Elke persoon het sy eie bakkie gekry.
- 500 g macaroni
- kaas, soveel soos verkies
- 150 g ham, in blokkies gesny
- Witsous:
- 60 ml botter
- 60 ml koekmeel
- 4 koppies melk
- sout na smaak
Voorverhit die oond tot 180ºC.
Kook die macaroni volgens die pak se aanwysings.
Maak intussen die witsous.
Smelt die botter in ‘n pot op die stoof oor lae hitte, voeg die koekmeel by die gesmelte botter en meng met ‘n draadklitser.
Voeg die melk by die botter- en meelmengsel en roer tot alles gemeng is en geen klonte het nie, voeg sout by volgens smaak en verhoog die hitte tot die sous begin prut.
Laat die witsousmengsel prut vir ‘n paar minute tot dit begin verdik en gaar is.
Voeg die ham by die witsous en meng deur.
Meng die witsous met die gaar macaroni en plaas in ‘n bak of bakkies.
Rasper kaas bo-oor die macaroni, soveel soos verkies.
Plaas die gereg in die oond en bak tot die kaas gesmelt en die gereg deurwarm is.
Skakel die rooster element aan en rooster die gereg vir ‘n paar minute tot die kaas verbruin bo-op.
Verwyder die gereg uit die oond en bedien warm.
Resep en foto: Jane Lerm