MAKLIKE INGELEGDE KWEPERS
Hier is my weergawe van ingelegde kwepers.
Die hoeveelhede is volgens die hoeveelheid kwepers wat gebruik word.
- kwepers
- sout
- water
- suiker
- 750 ml glas flesse
Steriliseer die glasflesse in die mikrogolf deur dit met ‘n bietjie water in elke fles te kook op hoog.
Steriliseer ook die deksels deur dit met kookwater te bedek tot benodig.
Skil die kwepers en sny dit in repe of blokkies soos verkies.
Plaas die kwepers in soutwater terwyl die res voorberei word.
Dreineer die kwepers van die soutwater en plaas die kwepers in ‘n groot genoeg pot op die stoof en bedek die vrugte met varswater.
Kook die kwepers tot so sag soos verkies. Toets met ‘n tandestokkie.
Giet die water uit die gesteriliseerde flesse en voeg 175 ml suiker (per 750 ml grootte fles) in elke fles waarin die kwepers ingelê gaan word.
Giet net genoeg van die kookwater, waarin die kwepers gekook het, in die fles om die suiker op te los.
Pak die kwepers in die flesse tot bo en vul die fles verder met die water waarin die kwepers gekook het, tot bo.
Maak seker al die lugborreltjies is uit die gevulde fles en seël die fles met die gesteriliseerde deksels.
Skud die fles onderstebo en plaas dit oornag op die deksels om af te koel.
Nota:
Voila en die kwepers of enige vrugte wat jy wil inlê, is klaar.
Geen ekstra stroop waarvoor jy nie raad het nie.
Resep en foto: Simone Fourie