MAKLIKE HOENDERPASTEI MET FILO
Ek het vandag hierdie vir ons gemaak van koue hoender en oorskiet sampioensous wat ek in die yskas gehad het. Ek hou daarvan om van alle gaar kos iets lekker te maak en so word dit wat oorbly altyd weer ‘n maaltyd.
Die ertjies het ek net opgekook met sout en bietjie fyn gemaak met ‘n stukkie botter daarby. Die soet jewel patats, net die skywe in die pan gesit met klein bietjie water, bietjie suiker oorgestrooi, sout en Low Cal koeldrankstroop en dit stadig laat kook tot die patats gaar was en die stroop so lekker klewerig begin raak het.
- 2 gaar hoender borsies, opgesny
- 1 koppie klaar sampioensous of meer
- 4 vars uie spriete
- 2 takkies vars pietersielie
- hoenderspeserye
- sout en swart peper, na smaak
- Filodeeg
- gesmelte botter
Meng die bestanddele saam, buiten die filodeeg en botter.
Skep in klein bakkies. Moet nie te droog wees nie, pas jou sous aan indien nodig.
Smeer die filodeeg vel met gesmelte botter en frommel op, plaas op die hoendermengsel, indien nodig gebruik ‘n tweede vel, ek het 1 vel in die helfte deur gesny en gebruik.
Doen dieselfde met die ander bakkie.
Bak in voorverhitte oond by 170ºC vir ongeveer 30 min.
Die deeg moenie te vinnig bruin word nie, dan is jou vulsel nog koud.
Bedien soos verkies.
Foto en resep: Rina Kleinhans