MAKATAAN EN PYNAPPELKONFYT
Ek het gister die heerlike makataan en pynappelkonfyt gekook. Voor jy begin met die opsny van die makataan, sny ‘n stukkie af aan die binnekant en proe daaraan. As dit bitter proe, moenie kook nie.
- 2.5 kg vrugte
- 2.5 kg witsuiker
- 1 teelepel sout
- paar stukkies heel gemmer
- 2 eetlepels suurlemoensap
- 2 blikkie (440 g) pynappelstukke, kleiner gesny
Sny die makataan in stukke en skil dit af en verwyder alle pitte.
Sny dan die sagte dele uit en sny in stukke.
Kook die sagte dele saam met ‘n koppie water tot dit ‘n moes vorm, omtrent vir ‘n uur.
Dreineer soveel moontlik water deur dit in ‘n sif of vergietes te dreineer en hou eenkant.
Sny die harder dele van die makataan op in klein blokkies van omtrent 8 x 8 mm groot en plaas in ‘n groot kastrol saam met die moes.
Voeg die vrugte en suiker by en verhit stadig sodat die suiker smelt.
Sodra die suiker opgelos is bring die mengsel tot koopunt en voeg sout, gemmer, suurlemoensap en pynappelstukke by.
Kook dan op lae hitte vir omtrent drie ure of doen die stroop toets.
Bottel die konfyt terwyl dit warm is in gesteriliseerde flesse.
Resep en foto: Gideon Louw