Your Recipe Blog

MAGGIE SE BLINKBEK LAMSPASTEI

Avatar photo
Recipe by
| Servings: 6-8 porsies

MAGGIE SE BLINKBEK LAMSPASTEI

Ek het vanmiddag hierdie heerlike lamspastei vanaf ons blog gemaak en dit is regtig heerlik en sommer ‘n lekker groot pastei. (34 x 22 cm bak)
Ek het net nie baie kaas bo-oor gesit nie, want die kors is reeds baie ryk. Probeer gerus en kom vertel vir ons, lyk na baie werk, maar met die stoompot gaan dit gou. Ek het dit wel op die stoof gedoen en die vleis het lekker stadig en lank gekook tot sag.
(Baie lekker en die degie is lekker klam)

  • Vulsel:
  • 1 eetlepel olie
  • 1 eetlepel botter
  • 1 rooi ui, gekap
  • 1 ui, gekap
  • 2 selderystingels, fyn gesny
  • 3 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 500 g lamsrib of lamsvleis van jou keuse
  • 100 ml Worcestersous
  • 8 ml sout
  • 300 ml water
  • 300 ml beesaftreksel
  • 2 takkies tiemie (Ek’t 2 ml gebruik)
  • 2 takkies roosmaryn (Ek’t 2 ml gebruik)
  • 1 teelepel swartpeperkorrels
  • 3 aartappels, in blokkies gesny
  • 2 wortels, in blokkies gesny
  • 300 ml ertjies
  • 2 cm vars gemmer
  • 1 brandrissie (Ek’t dit uitgelos)
  • sout na smaak
  • 400 ml water
  • 45 ml blatjang
  • 40 ml bruinsuiker
  • 1 eiergeel
  • 45 ml witwynasyn
  • Kors:
  • 1 koppie koekmeel
  • 8 ml bakpoeier
  • 2,5 ml sout
  • 2,5 ml rooipeper
  • 25 ml botter
  • 1 koppie gerasperde kaas of na smaak
  • 175 ml suurroom
  • 2 eiers
  • 175 ml melk
  • 25 ml pietersielie

Vulsel:
Verhit die olie en botter in ‘n drukkoker en soteer die iu, seldery en knoffel tot net sag.
Spoel die vleis af en druk droog. Vryf die Worcestersous en sout goed in die vleis. Plaas die vleis by die uiemengsel in die drukkoker.
Voeg water, aftreksel, tiemie, roosmaryn en peperkorrels by. Sit die drukkoker se deksel op en laat 30 min lank kook op hoë druk.
Verhit die oond tot 180ºC.
Kook die aartappels, wortels, ertjies, gemmer, brandrissie en sout sowat 10 min lank in die 400 ml water.
Verwyder die brandrissie en gemmer en dreineer die groente, hou eenkant.
Haal die vleis uit en trek van bene af, skep terug in die sous.
Meng blatjang en suiker en roer by die vleismengsel in. Laat 5 min kook. Voeg die groente by en verwyder van die hitte af.
Klits die eiergeel goed en voeg asyn by, meng goed. Roer by vleismengsel in. Laat afkoel en skep in gespuite pasteibak.

Kors
Sif meel, bakpoeier, sout, rooipeper saam. Vryf botter in. Voeg die helfte van die kaas by en meng. Meng die suurroom, eiers en melk saam en roer dit by die meelmengsel in. Dit sal ‘n slap beslag wees. Skep die deeg oor die vleis en bak 30 min lank of tot gaar.
Haal uit die oond en strooi res van die kaas oor. Sprinkel pietersielie oor en sit weer terug in die oond tot kaas gesmelt is.

Laat effens afkoel voor bedien.

Nota:
Indien die sous te dun is kan jy dit met ‘n hoogvol maizena wat met klein bietjie water aangemaak is, net effens verdik, maar jou mengsel moet souserig wees, so pasop vir teveel.
Ek het ook die eierwit wat oorwas saam met die kors se eiers geklits, en dit was heerlik.

Resep aangepas en foto: Rina Kleinhans
Resep geplaas deur Benhet Nieuwenhuis

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page