MAASKAASVETKOEKIES
Laat almal om die pot vergader terwyl jy dit braai, want dit is op sy heel lekkerste warm wanneer die poffers sommer so in jou mond smelt.
- 2 eiers
- 1 koppie koekmeel
- 2½ teelepels bakpoeier
- knippie sout
- ¼ koppie suiker
- 1 koppie (250 g) growwe maaskaas of ricotta
- 1 teelepel vanilla geursel
- olie vir braai
- versiersuiker vir opdien
Breek eers die eiers in die bak van ‘n menger en klits dan die res van die bestanddele (behalwe die olie en versiersuiker) daarby tot glad. Moet dit nie verder klits nie.
Verhit 4 cm olie in ‘n kastrol tot baie warm (maar nie rokend).
Skep teelepels van die beslag in die warm olie en draai die balletjies om sodra dit goudbruin aan die onderkant is.
Die olie temperatuur is reg as dit ongeveer 3 minute vir ‘n balletjie neem om gaar te raak – dit moet gepof goudbruin en net-net ferm in die middel wees.
Sprinkel versiersuiker oor die warm balletjies en sit dadelik voor.
Resep en foto: Wayne Dugmore