MA WALLY SE KOEKSISTERS
- Deeg:
- 4 koppies koekmeel
- 3 teelepels bakpoeier
- 113 g margarien
- 1 eier
- karringmelk om aan te maak (ek gebruik so ± 250 ml karringmelk)
Meng alles saam tot ‘n deeg vorm en knie vir ongeveer 15 – 20 minute.
Nota:
Ek knie my deeg in my elektriese menger met die “dough hook” vir so 10 minute. Plaas in die yskas om te rus.
- Stroop:
- 10 koppies suiker
- 5 koppies water
- 1 eetlepel goue stroop
- ½ teelepel wynsteensuur
Kook die suiker en water saam vir ± 5 – 10 minute. Haal van die plaat af en sit die goue stroop by, meng deur en voeg die wynsteensuur by, meng deur en plaas in die yskas.
Nota:
Jou stroop moet yskoud wees! Kan ook in twee bakke verdeel word, sodat die een bak altyd in die yskas bly, en dan ruil jy elke nou en dan die bakke om te verseker die stroop bly koud.
Laat die deeg vir ± 2 ure rus in die yskas voor jy dit uitrol om te bak. Rol ongeveer 4 mm uit.
Ek vleg so 2 dosyn op ‘n slag en sit dit dan onder die klam doeke en die ander deeg gaan eers weer yskas toe.
Bedek jou koeksisters met ‘n klam lap sodat deeg nie uitdroog voor jy dit bak nie.
Die olie moet so ±160ºC wees.
Plaas die koeksisters direk in die stroop en hou dit vir ‘n paar sekondes onder met ‘n aartappel drukker.
Plaas op ‘n afdrup rakkie sodat die oortolloge stroop kan afloop.
Verpak in sakkies en vries. Hulle word sommer so uit die vrieskas geëet.
Foto: Letitia Henstock