Your Recipe Blog

LEMOENRING

Avatar photo
Recipe by
Cook: 60 minute

LEMOENRING

My inskrywing vir die lemoenuitdaging.
Hierdie is ‘n resep wat my ma in die 1960’s saam met ‘n ringpan gekry het. Dis nog altyd my gunsteling en deur die jare het ek die resep bietjie aangepas, bv. ek gebruik nou Amasi ipv suurmelk en ek het geleidelik die vrugte vermeerder en neute bygesit dat dit nou amper soos ‘n ligte vrugtekoek lyk.
  • 250 g margarien of botter
  • 1 koppie suiker
  • 3 eiers
  • ¾ koppie volroom Amasi
  • 3 koppies koekmeel
  • 2 teelepel bakpoeier
  • 1 teelepel koeksoda
  • 1 teelepel sout
  • 2 eetlepels gerasperde lemoenskil
  • 2 ½ koppies droëvrugte (½ koppie elk rosyne, sultanas, korente en 1 koppie kersies)
  • 2 eetlepels versuikerde lemoenskil
  • ½ koppie grofgekapte pekanneut
  • Sous:
  • ½ koppie vars lemoensap
  • ½ koppie suiker

Smeer of spuit ’n 23 cm losboom ringpan goed.
Voor verhit die oond  tot 180°C.  Meng droëvrugte, kersies en versuikerde lemoenskil in ‘n bak.
Roer ½ koppie van die koekmeel deur tot alles goed bedek is. Hou eenkant tot benodig.
Room botter en suiker goed saam, en voeg dan eiers een vir een by en meng goed.
Meng meel, bakpoeier en sout. Roer koeksoda by Amasi in.
Meng die res van die meel om die beurt met die Amasi by die bottermengsel in.
Voeg gerasperde lemoenskil by en meng in.
Roer die meelbedekte vrugte en pekanneute in tot goed gemeng.
Skep deeg in ‘n ringpan en maak gelyk bo-op.
Bak vir 1 uur by 180°C of totdat toetspen skoon uitkom.

Sous:
Kook die sousbestanddele saam tot die suiker gesmelt is – 3 minute in mikrogolfoond.
Gebruik groot beker want die sous kook nogal op.
Giet versigtig oor die koek sodra dit uit die oond kom.
Koek moet in die pan afkoel.
Lemoenskilsprinkels:
Ek het heerlike lemoenskilsprinkels gemaak om bo-oor te strooi maar mens kan dit skaars sien.
Sny 1 lemoen se skil fyn af – maak seker daar is geen wit aan nie. Sny in dun strokies.
Kook in stroop van gelyke dele water en suiker (half koppie van elk) in die mikrogolf vir vyf minute.
Haal die stukkies uit die stroop en laat bietjie droog word.
Sprei dit uit op ‘n (gesmeerde) bakplaat en bak vir so 15 min by 150 ºC en laat dit dan afkoel in die oond.
As dit koud is kan jy dit sommer met jou hande fyn druk en op die koek sprinkel.

Nota:
Die koek is nog baie vars (eintlik nog louwarm) so dis waarom dit bietjie krummelrig was toe ek dit gesny het.

Resep en foto: Retha Sorum Burger

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page