LEMOENKOEK MET VLAVULSEL
- Koek:
- 4 ekstra groot eiers
- 500 ml suiker
- 125 ml lemoensap
- 125 ml water
- 100 ml olie
- gerasperde skil van 1 lemoen
- 500 ml koekmeel
- 2 ml sout
- 15 ml bakpoeier
- Vulsel:
- 125 ml water
- 45 ml suiker
- sap van 1 lemoen
- 45 ml vlapoeier
- 5 ml botter
- 1 ml sout
- 250 ml room, styf geklop
- geroosterde klapper
Voorverhit oond tot 180ºC en spuit twee 20 cm koekpanne.
Koek:
Klits die eiers tot lig en voeg die suiker lepelsgewys by. Klits baie goed tot lig en dik. Verhit die lemoensap, water, olie en lemoenskil tot kookpunt en laat afkoel.
Sif die koekmeel en sout oor die eiermengsel en vou in met ‘n lepel.
Sprinkel bakpoeier oor en giet die vloeistof oor. Meng die beslag goed deur.
Skep in die voorbereide panne en bak vir 35 minute tot gaar.
Vulsel:
Verhit water, suiker en lemoensap stadig tot suiker gesmelt is – roer deurentyd.
Maak die vlapoeier aan met ‘n bietjie koue melk tot ‘n pasta.
Roer bietjie van die warmmengsel by die vlapoeiermengsel in en giet weer terug in die kastrol.
Verhit tot kookpunt en laat prut tot dik en gaar, roer die hele tyd, pasop vir aanbrand.
Verwyder van die hitte en roer die botter en sout in.
Laat afkoel en meng room by.
Halveer elke koeklaag horisontaal en smeer vulsel tussen-in en bo-op.
Sprinkel geroosterde klapper oor.
Resep en foto: Amanda Austen