LEMOEN, PAPAJA EN APPELKONFYT
Resep en foto: Rina Kleinhans
Ek het ‘n papaja gekoop wat net nie lekker was nie, en so ook het ek lemoene geskil om marmalade te kook. Uit dit is die volgende konfyt gebore, en jammer dat ek dit nou self moet sê, maar dit is regtig lekker. Ek eet nie marmalade nie, maar hierdie konfyt kan jy maar probeer. Ek het al voorheen gesê, ek kook konfyt van alles wat voorkom😊 hier is weer ‘n bewys😊
- 1 ryp papaja in blokkies gesny
- 4 lemoene geskil, en fyn gesny
- 1 golden delishes appel, geskil en fyn gesny
- ½ suurlemoen met skil en al fyn gesny
- ongeveer 30 ml suurlemoensap
- suiker – dieselfde gewig as die vrugte
- Plaas al die vrugte in ‘n groot genoeg glasbak, sprinkel die suiker oor die vrugte en roer deur.
- Sit eenkant neer met ‘n doek oor. Roer af en toe tot die suiker omtrent heeltemal opgelos is.
- Skep die mengsel in ‘n pot en voeg die suurlemoensap by. Plaas op die stoof en kook op medium hitte tot die konfyt reg toets op ‘n yskoue piering.
- Nota:
As die konfyt te grof is na jou sin kan jy dit net vinnig met ‘n “stick blender” bietjie fyner maak. - Bottel in skoon, warm bottels met deksels. Seël dadelik. Draai die bottels op hulle proppe om af te koel, want my ouma het so gesê😊












