LEKKERSTE MAKLIKSTE VETKOEKE MET KERRIE MAALVLEIS
Vetkoek met kerrie maalvleis… die 2de keer in my lewe dat ek nie winkeldeeg gekoop het nie en dit selfgemaak het! My VETKOEKE het altyd so hard soos klippe uitgekom… baie dankie vir Kokkedoor Tessie Els Kemp se resep. Jay!
Ek kan ook nou self vetkoek van ‘scratch’ af maak! Nooit te oud om te leer nie!🙈😄
- 500 ml (2 koppies) lou water
- 2 teelepels suiker
- 2 teelepels droëgis, gelyk geskraap
- 5 x 250 ml (5 koppies) koekmeel
- 1 ½ teelepels sout
- 25 ml (2 eetlepels) olie
- olie vir diepbraai
Roer suiker in lou water en gooi gis by. Laat rys tot gis bo dryf.
Sif meel en sout saam. Voeg olie by gis, meng met meel en knie goed.
Laat rys vir 50 minute. Strooi meel op werksoppervlak.
Plaas deeg daarop, rol uit en sny in grootte van jou vetkoeke.
Sit plastiek oor en laat rys weer vir 20 minute.
Bak in warm olie tot bruin.
Lewer 16 vetkoeke met ‘n deursnee van 10 cm.
Foto: Heleen Brümmer Nel
- KERRIE MAALVLEIS
- genoeg olie om uie te braai
- 1 ui, gekap
- 5 ml (1 teelepel) fyn knoffel
- 5 ml (1 teelepel) vars gemmer, gerasper of 1 teelepel gemmer poeier
- 30 ml worcestersous
- 30 ml tamatiesous of tamatie pasta
- 500 g maalvleis
- 3 medium aartappels, in blokkies gesny
- 250 g gevriesde gemengde groente (opsioneel, ek het dit vandag nie ingesit nie)
- 10 ml kerriepoeier
- 5 ml fyn naeltjies
- 5 ml fyn komyn
- 5 ml fyn neutmuskaat
- 5 ml (1 teelepel) borrie
- 30 ml (2 eetlepels) appelkooskonfyt
- 10 ml (2 teelepels) asyn
- beef stock blokkie
- 500 ml kookwater
Nota:
Die geheim is om net bietjie water op ‘n slag by te voeg sodra dit droog kook , gooi nog bietjie in, tot alles gaar is.
Verhit olie en braai uie, knoffel, kerriepoeier, naeltjies, komyn, neutmuskaat, borrie en gemmer tot sag.
Skep uie uit en braai maalvleis tot bruin. Meng uie en geurmiddels terug by vleis, laat goed braai.
Voeg die Worcestersous en tamatie sous/pasta by. Meng appelkooskonfyt en asyn en voeg by maalvleis mengsel. Voeg 500 ml kookwater met ‘n beef stock blokkie in opgelos, by.
Voeg aartappels by en kook vir so 15 minute.
Voeg gevriesde gemengde groente by en kook tot gaar. (opsioneel, ek het dit vandag nie ingesit nie)
Kook dan tot al die water amper weggekook is en druk paar van aartappel blokkies fyn om sous bietjie dik te maak. Roer goed. Geur met sout en peper.
Resep en foto: Heleen Brümmer Nel
Lekkerste maalvleis ooit!