LEKKER VISPASTEI VAN PILCHARDS
“Dit was oorspronklik as Jim se vispastei in ‘n boekie uitgegee deur ‘n gemeente in Bellville in 1975. Ek het dit deur die jare bietjie aangepas.”
- 1 ui, fyngekap
- 2 teelepels botter/kunsbotter
- 125 ml slaairoom (mayonnaise)
- 2 eetlepels pietersielie, vars gekap of 1 teelepel droë pietersielie
- 15 ml asyn
- 2 eiers
- 1 blikkie pilchards in tamatiesous
- sout en peper, na smaak
- 2 – 3 koppies warm kapokaartappels, gemaak met bietjie melk en
- botter/kunsbotter (nie te styf nie)
Kook fyngekapte ui en botter vir drie minute in mikrogolf. Roer na twee minute.
Haal vissies uit die sous en maak fyn. Voeg alles behalwe aartappels by die vis en meng goed.
Smeer ‘n bak van 20 cm x 20 cm.
Sit ongeveer ⅔ van aartappels in die bak en versprei rofweg met agterkant van ‘n lepel teen die kante en bodem as ‘n kors. Skep die vulsel in.
Skep die res van aartappel in klein hopies op die vulsel en versprei liggies met vurk sodat vulsel redelik goed bedek is.
Bak in oond by 180 °C vir 30 – 40 minute tot gestol en bruin.
Resep en fotos: Huibré Müller
Nota 1:
Ronel Potgieter Hanekom:
Ek maak my vis in die sous fyn en meng dit dan met die ander bestanddele.
Ek rasper ook kaas bo-oor myne… dis baie lekker.
Nota 2:
Di Botha:
Hierdie resep is ‘n wenner; bedien met ‘n lekker slaai. Ek gebruik hom al jare.
Nota 3:
Elsabe Esterhuyzen:
Dit lyk baie lekker, maar ek sal die tamatiesous van vis ook gebruik. Maak vis daar in fyn; gebruik eers net die helfte van die sous en meng dan saam met die uie en pietersielie mengsel. Skep kapokaartappels bo-op, klop ‘n eier en op en giet bo-oor en sprinkel dan ‘n koppie gerasperde kaas bo-oor. Bak in oond vir 30 minute tot goudbruin – baie lekker.