LEKKER BESKUIT MET SADE EN KLAPPER
- 1 kg bruismeel
- ¼ koppie bakpoeier
- 1 teelepel sout
- 1½ koppies muesli
- ¾ koppie rosyne (ek gebruik cranberries)
- 1¼ koppies sonneblomsaad
- ½ koppie klapper
- ¼ koppie linsaad
- ¼ koppie sesame saad
- 2 koppies bruinsuiker
- 3 groot eiers
- 2 koppies karringmelk
- 500 g Stork Bake magarien, kamertemperatuur
Voor verhit oond tot 180°C.
Klits suiker en magarien tot romerig in ‘n groot skottel. Klits eiers een vir een by. Voeg karringmelk by en meng goed.
Sif bruismeel, bakpoeier en sout saam en meng al die ander droë bestanddele goed. Meng die droë- en nat bestanddele saam.
Bietjie koekmeel kan op hande gegooi word as deeg te klam is.
Druk in 2 beskuitpanne en bak 45 min.
Droog losgemaakte beskuit op 70° C vir ongeveer 4 ure tot droog in oond waarvan die deur met iets effens oopgehou word, of tot dit droog is, oonde verskil.
Nota:
Francis Schoeman
Die bakpoeier klink na baie, maar met al die sade, klapper en muesli, bak hy met groot sukses. ‘n Persoon kan die bakpoeier baie verminder, maar ek persoonlik vind dan dat die beskuit klipperig uitkom.
Ek bak die resep gereeld en my vriende vra gereeld daarna en het nog nooit ‘n probleem ervaar nie.
Letitia Henstock
Die meusli wat ek gebruik het, het reeds rosyntjies in gehad. Ek het in die plek van die rosyntjies bosbessies ingesit.
Ek het ook gevind dat dit nie deeglik droog is as jy dit vir 4 ure op 79 ºC droog nie so beveel aan dat dit op 100ºC gedroog moet word vir ± 6 ure.
Resep: Francis Schoeman
Foto: Letitia Henstock
My karringmelk raak klonterig as ek dit by die botter en suiker voeg? Wat is die rede?
Hi Cindy jou margarine moet net kamertemeperatuur wees, nie gesmelt nie, dit sal dan maak dat die mengsel “klonte” maak wanneer jy die koue karringmelk byvoeg, maar dit sal weer perfek wees sodra jy dit goed meng. Gebruik karringmelk wat kamer temperatuur is, en klits net die mengsel goed.