LAE KOOLHIDRAAT BROCCOLIRYS- EN HOENDERKASSEROL
Dis Donderdagaand en môre is Vrydag… die einde van ‘n lang warm week! Hierdie is ‘n lae koolhidraat hoenderkasserol… baie lekker, en indien jy klaar ‘gerysde’ broccoli en ‘n gaar hoender het, baie vinnig! En heerlik… indien jy broccolirys moet maak – dis doodeenvoudig: kap die broccoli-takkies fyn in ‘n voedselverwerker tot die groente soos ryskorrels lyk (sommige mense braai dit dan baie effens in olie met uie, knoffel en parmesaankaas, maar dis nie nodig hier nie).
- 4 koppies broccoli-rys
- 20 ml olyfolie
- 1 ui, gekap
- 1 rooi soetrissie, gekap
- 1 geel soetrissie, gekap
- ½ koppie ertjies
- sout en peper, na smaak
- 3 koppies gaar hoendervleis, in blokkies gesny
- 250 ml room
- 125 g roomkaas
- ⅓ koppie gerasperde Parmesaankaas
- 3 teelepels Dijonmosterd
- ½ koppie Mozzarellakaas, om bo-oor te strooi
Stoom of braai broccolirys in mikrogolf in glasbak vir 15 minute. Hou eenkant.
Braai ui en soetrissies in olie tot sag. Voeg sout, peper, ertjies en gaar broccolirys by.
Braai vyf minute.
Skep in ‘n gesmeerde oondbak, en strooi hoender bo-oor.
Verhit room, roomkaas en parmesaankaas saam in ‘n pot/pan totdat dit begin borrel, en klits tot ‘n gladde sous.
Roer mosterd deur.
Giet sous bo-oor gereg, sprinkel kaas bo-oor en bak 20 minute by 190 °C tot goudbruin.
Foto en resep: Ilze Garbers Jacobs