KRUISBIEFSTUK MET GEROOSTERDE KRUIE AARTAPPELTJIES
- Kruisbiefstuk:
- 500 g kruisbiefstuk (rump steak)
- 10 ml olyfolie
- 5 ml Worcestersous
- gemaalde sout en peper
- roosmaryn takkie
Vryf die biefstuk in met die olyfolie en Worcestersous, laat staan tot gaarmaak tyd.
Geur die biefstuk met sout en peper. Verhit olie in ‘n pan en plaas die biefstuk regop op die vetkant in die warm pan vir 4 minute.
Braai dan 2 minute aan elke kant en herhaal vir nog 2 minute aan ‘n kant vir medium rou. Plaas in ‘n louwarm bak, bedek met foelie en laat staan vir 5 minute.
- Aartappeltjies:
- ±30 geskilde klein aartappeltjies
- olyfolie
- 90 ml gesifde koekmeel
- 30 ml kruie (herb spices)
- 5 ml sout
- 5 ml gemaalde swartpeper
Kook die aartappeltjies vir so tien minute. Dreineer en skep in ‘n bak met ys water en ‘n halwe suurlemoen. Laat staan ‘n ruk. Dreineer en maak droog op papier handoek.
Meng die meel en kruie in ‘n sakkie. Skud goed sodat die inhoud goed gemeng het.
Plaas die aartappeltjies daarin en skud weer goed tot heeltemal bedek. Verhit olie in ‘n pan en diepbraai die aartappeltjies totdat hulle begin bruin raak.
Plaas oor in ‘n oondbak en dan in ‘n verhitte oond teen 200° op bak en rooster vir so 45 minute of tot bros. Verlaag die hitte en hou warm in die oond tot die biefstuk gebraai is.
Resep en foto: Johan Rossouw