KROKKEWAAN (‘Coq au vin’)
Dis hoe hy die eerste keer op my oor geval het. So nou stiek hy so uit!
Franse geregte is eintlik eenvoudige samestellings; die prosesse is egter uniek en soms fynwerk. Hoender in rooiwyn is ‘n Boergondies-Franse classique en ‘n heerlike gereg vir ‘n koue aand. Hiermee dan my resep, wat trek op plaaslike resepteboeke en Julia Child se klassieke.
- ± 1.5 kg (1 pak ) hoenderstukkies: verkieslik dytjies en borsies, met been en vel
- 250 g – 500 g blokkiespek, na smaak
- 1 groot ui, in ringe
- 1 pakkie knopiesampioene, klein, kort dikketjies
- pekeluitjies, sowat 15 van hulle, mooi geskil
- 250 g jong worteltjies, hierdie is mooi en lekker soet, maar gebruik gerus gewone wortels wat in ringe of blokke gesny is
- 1 bottel rooiwyn (ek gebruik Kaapse Pinotage!)
- 500 ml se hoender- of ander aftreksel
- 2 eetlepels knoffel
- vars tiemie en roosmaryn
- 60 ml tamatiepuree
- sout en peper na smaak
- NB!! Vir die “Boeremanie” (buerre manie is glo Frans vir ‘n bottersous):
- 2 eetlepels sagte botter met
- 2 eetlepels koekmeel gemeng
Laat staan hoenderstukke in ‘n bak met al die rooiwyn, geur met sout en peper. Gee dit minimum 2 ure!
Neem jou platboompot of ‘n soortgelyke pot en braai die spek tot bros, hou eenkant. Dreineer tussendeur die hoenderstukke maar BEHOU die rooiwynmarinade!
Braai nou die hoenderstukke tot alkant goudbruin. Hou eenkant, maar moenie laat sagsweet onder ‘n bak nie.
Braai uieringe in die vette wat in die potbodem versamel het. Voeg olyfolie by indien nodig.
Voeg die pikante sampioentjies by en braai vlugtig saam met die uie, maar skep uit.
Voeg knoffel en tamatiepuree in die pot en kook die sousie totdat hy verdonker.
Meng uieringe deur en pak die hoenderstukkie netjies bo-op die mengsel.
Meng gou die rooiwynmarinade wat oorgebly het met die aftreksel en giet by die pot sodat die hoenderstukke net bedek is. Plaas ‘n paar takkies tiemie bo-op die hoender. Laat prut vir so halfuur. Verhit intussen die oond tot 200 ºC.
Bedek die hoenderstukke met pekeluitjies, worteltjies en die sampioene. Voeg ‘n lekker takkie roosmaryn en sout en peper na smaak by, en sit dié mademoiselle in die oond.
Laat haar bak vir hoogstens 2 ure, maar eintlik net behoorlik totdat die groente sag is.
Meng jou Boeremanie-sous. Verwyder die pot uit die oond en rangskik die inhoud sodat ‘n kuiltjie in die middel vorm- Probeer nie alles deurmekaar klits nie!
Voeg nou dié smaaklike bottersous in die kuiltjie en meng totdat al die pot se sous daarmee deurgemeng is. Bring tot prutpunt vir so paar minute terwyl jy tafel dek.
Strooi spekkorrels bo-oor en voila.
En daar’s jou eg AfriFranse Pinotage Krokkewaan met Boeremanie-sous en hopelik ‘n kraakvars Pakket (baguette) vir die maer jare. Nunc est bibendum!
Resep en foto: Frederick Rudolf van Dyk