KOOS WYE VOETE RIBBETJIES MET KWV-SOUS
- 1½ kg varkribbetjies
- Speseryemengsel:
- 5 ml mosterdpoeier
- 5 ml paprika
- 5 ml chillipoeier
- 5 ml komyn (cumin)
- 5 ml origanum
- 15 ml sout
- 15 ml bruinsuiker
- 1 ui, gekap
- 1 knoffelhuisie, gekap
- Koos Wye Voete sous:
- ½ koppie KWV brandewyn
- 1 koppie bruinsuiker
- 1 koppie bruinasyn
- 1 ui, gekap in klein stukkies
- 1 tamatie, geskil en fyn gesny
- 30 ml tamatiesous
- 10 ml Dijonmosterd
- 5 ml komyn
- 5 ml chillipoeier
- 2 ml kaneel
- 5 ml paprika
- 5 ml mosterdpoeier
- 2 loerierblare
- 5 ml sout
- skil van ‘n lemoen
- 1 jalapeno, fyn gesny: saad-en-al (of sonder saad vir minder sterk geur)
- sap van 1 lemmetjie
Vryf ribbetjies met speseryemengsel, gooi dan die een fyngekapte ui en een fyn knoffelhuisie oor en meng goed met ribbetjies en laat vir drie ure marineer in yskas.
Voorverhit die oond tot 180 °C. Vryf die ribbetjies met olie en braai oor warm kole aan beide kante tot bruin, ongeveer vier minute aan ‘n kant.
Plaas in oondvaste bak met styfpassende deksel.
Bring die sousmengsel tot kookpunt in ‘n klein potjie en skep oor die ribbetjies.
Bedruip met lemmetjiesap.
Bak met deksel op tot so sag as wat jy daarvan hou, ongeveer een uur.
Haal dan deksel af en rooster ‘n rukkie in die oond.
Nota:
Ek het die ribbetjies bedien met my eie aartappelslaai, die FLR blog se beetblatjang en Duitse komkommerslaai en Amanda Conradie se balsamiese aartappels. (3 baba aartappels per persoon, kook net tot sag in bietjie soutwater – nie te sag, sny in dikkerige skywe, strooi balsamiese asyn bo-oor terwyl nog warm is. As jy wil, kan jy bietjie olyfolie oorgooi voor die asyn)
Resep en foto: Elize de Kock