KOOL- EN GROENTEGEREG
Ek het hierdie groentegebak as ‘n video op “Facebook” gesien, en dit gisteraand as ‘n bygereg vir ‘n seekosete gemaak. Ek was eers bang dat dit dalk waterig mag wees, maar dit was glad nie. Heerlik en redelik ekonomies want die hoofbestanddeel is kool, ek kan dit regtig aanbeveel!
Hierdie is my aangepaste resep.
- 6 eiers
- ½ kopkool, in blokkies gesny
- 1 medium ui, fyn gekap
- 1 – 2 wortels, gerasper
- ½ tamatie, in blokkies gesny
- 200 g Mascarpone
- 100 g Roomkaas, effens sag gemaak in die mikrogolf
- 50 g Parmesan kaas, gerasper
- 1 wiel Feta, fyn gekrummel
- 2 teelepels oreganum
- 1 teelepel gemengde kruie
- 1 teelepel suurlemoen peper
- sout en peper na smaak
- 1 ½ koppie gerasper kaas
Plaas al die bestanddele behalwe die 1 ½koppie gerasperde kaas in ‘n mengbak, en meng goed. Skep in ‘n 40 x 25 cm gesmeerde oondbak, sprinkel die gerasperde kaas bo-oor en bak 40 minute by 180˚C tot goudbruin.
Nota
1 koppie gaar spek is ‘n opsionele ekstra om by te voeg indien verkies.
Resep en foto: Ilze Jacobs