KOOL-EN AARTAPPELEENSKOTTELGEREG
Hierdie gereg het die pas afgelope Sondag vir ‘n verrassing gesorg, toe dit inderhaas gemaak is nadat daar nie blomkool en broccoli in die huis was nie en die mense wou kookkos saam met die braaivleis hê. Nodeloos om te sê dat ek traag die kopkool in die huis uitgehaal het, wetende met watter lang tande kool geëet word. Wel ek kan net sê almal tot die kleinste het gekom vir ‘n tweede porsie en daar was nie ‘n happie oor vir Maandag se bederfie nie.
- ½ koolkop (as dit ‘n groot kop is) ¾ tot 1 heel gekerfde koolkop (indien dit ‘n kleiner kop is)
- 2 aartappels, geskil en dun gesny
- 10 velletjies pizzaham, in blokkies gesny, of kouevleis (blokkies/worsies (ringetjies) van jou keuse
- 1 teelepel knoffelvlokkies
- 1 pakkie potato bake (Sour cream and chives) + ½ pakkie Parmesan and garlic potato bake
- 250 – 300 ml ongegeurde dubbelroom jogurt of suurroom
- ± 175 ml volroom melk
- 500 – 600 ml gerasperde Cheddarkaas
- 2 eetlepels gerasperde Parmesaankaas
Voorverhit die oond tot 180 ºC en smeer ‘n diep oondpan (ou ovaalvormige oondkasserol werk ideaal).
Kook die kool en aartappel in soutwater vir 10 minute.
Meng die potato bake en jogurt of suurroom en melk en plaas eenkant terwyl die kool en aartappels kook.
Dreineer die aartappels en kool deeglik en plaas dit oor in die gesmeerde oondkasserol.
Versprei die hamstukkies/vleis/worsringetjies eweredig oor die kool en aartappelskywe.
Sprinkel die knoffelvlokkies oor die kool en versprei die potato bake-mengsel eweredig oor die kool en aartappelmengsel.
Strooi die Cheddar en Parmesaankaas oor.
Plaas in die voorverhitte oond en bak vir ongeveer 30 minute of totdat die gereg gaar en goudbruin bo op is.
Indien die kaas te vinnig bo-op bruin word, plaas foelie met die blink kant na bo, bo-oor die gereg.
Nota:
Die pizzaham kan vervang word met kouevleis van jou keuse. Byvoorbeeld, spek (braai bros voor oorgestrooi word), dun Russiese worswieletjies, weense worsies, salamiskyfies of vleis van keuse.
Resep en foto’s: Elma Brittz-Venter