KOMBINASIE GRANADILLATERT
Hierdie is ‘n heerlike tert, wat gebak word en ook in die yskas kom vir die bo-laag om te stol.
Regtig gebore uit sommer net bymekaar sit en proe.
- Kors:
- 1 pak Tennisbeskuitjies of enige van jou keuse, fyngemaak
- 80 – 100 ml botter, gesmelt
- Vulsel:
- 600 – 700 ml Griekse jogurt (plain)
- 1 blik kondensmelk
- 1 blikkie granadilla pulp (of ‘n glasie)
- 30 ml suurlemoensmeer (lemon curd)
- versoeter of suiker
- zest van ‘n halwe suurlemoen
- 15 ml suurlemoensap
- Bo-laag:
- 125 ml room
- 40 g suurlemoen jelliepoeier
Voorverhit die oond tot 180 ºC.
Spuit ‘n losboom 20 cm koekpan baie goed.
Deel die granadilla pulp in twee, meng die een gedeelte met die suurlemoensmeer en bietjie versoeter of suiker na smaak, nie te soet nie, net om die suur bietjie te breek. Hou die ander deel een kant.
Meng die beskuitjiekrummels met die botter. Spuit ‘n 20 cm losboompan goed met Spray and Cook en druk die krummel mengsel op die bodem van die pan vas. Plaas in die yskas solank jy die vulsel meng.
Plaas al die vulsel bestanddele in ‘n mengbak saam met die granadillamengsel en meng baie goed dat dit mooi glad is.
Skep die vulselmengsel op die kors en bak in die oond vir 25 minute.
Haal die pan uit die oond en laat goed afkoel, plaas in die yskas om heeltemal te stol.
Terwyl jy wag vir die tert om af te koel, maak die jellie aan met 80 ml kookwater en maak seker dit los baie goed op. Meng 80 ml yswater by en meng deur. Klits die room vir ‘n rukkie en voeg dan die opgeloste jellie stadig by terwyl jy heeltyd klits. Sit die jelliemengsel in ‘n bakkie in die yskas, en hou dop, dit moenie stol nie, klits dit baie baie goed elke 10 – 15 minute tot dit glad is, dan sit jy dit weer in die yskas, herhaal tot die mengsel redelik styf begin word, dit moet nie meer kan afloop van die koek af nie. Skep die jelliemengsel op die tert in die losboompan, maak mooi gelyk, en los in die yskas tot mooi gestol.
Meng die res van die granadilla pulp met suiker na smaak, en kook stadig tot dit ‘n ‘n redelike dik stropie vorm. Laat heeltemal afkoel en bere in die yskas.
Wanneer die tert goed gestol is, haal die ring af en maak dit los van die plaatjie af, sit die tert op ‘n opdien bord.
Nou kan jy of die granadilla stropie oor die hele tert skep, of soos ek gemaak het, net die stropie oor die porsies skep wat ek bedien, anders loop al die stroop af.
Geniet dit, en onthou klits die jellielaag baie gereeld anders gaan jy met ‘n stywe onsmeerbare mengsel sit.
Resep en foto: Rina Kleinhans