KOLJANDER PESTO
Ek het gedink ek deel die resep vir die warm somer wat voorlê, het dit vandag gemaak en klaar gebruik as ‘n slaaisous vir spinasie slaai. Ek is mal oor vars koljander (coriander/dhania), maar weet almal is nie ewe mal daaroor nie, maar as jy vars basil of roket het, werk die resep net so goed. Dit is ook ‘n goedkoper “pesto”, want dit gebruik Canola olie en kasjoeneute in plaas van olyfolie en denneneute (pine nuts). Roer dit deur pasta of kerrie, stop in ‘n hoenderborsie, meng met roomkaas vir ‘n smeer, of meng met bietjie olie en asyn vir ‘n ongelooflike slaaisous. Eindelose moontlikhede. Het hierdie eers geproe met kaas en ‘n soutbeskuitjie, heerlik!
- 50 g vars koljander (of basil/roket), stingels en al
- 150 g kasjoeneute (cashew nuts)
- 2 knoffelhuisies
- 125 – 150 ml Canola olie
- 10 ml asyn/suurlemoensap
- sout en peper na smaak
Plaas al die bestanddele in ‘n voedselverwerker, en meng tot redelik glad.
Skep in glasbottel, giet bietjie ekstra olie bo-oor en bêre in die yskas.
Sit altyd weer olie oor soos wat dit gebruik word.
Resep geplaas deur Ilze Garbers Jacobs
Foto: Ilze Garbers Jacobs