KOEKSISTERS
Hier is die resep wat ek gemaak het. Dit bly lekker krakerig en lewer ± 7 dosyn medium grote koeksisters.
- Vir die stroop:
- 2 kg bruinsuiker
- 5 ml gemmer
- sap van halwe suurlemoen
- 30 ml vanilla geursel
- 1 liter water
- 2 teelepels kremetart
Verhit al die bestanddele (behalwe vanillla en kremetart) in ‘n groot pot oor medium hitte.
Roer totdat die suiker HEELTEMAL opgelos is.
Bring tot by kookpunt en kook vir 10 min.
Roer heel laaste vanilla en kremetart in.
STOP.
Wag tot die stroop koud genoeg is om in ‘n ander bak te gooi.
Laat die stroop oornag afkoel in die yskas.
Die yskoue stroop is die eerste geheim van koeksisters maak, so moenie eers met louerige stroop probeer nie!
Wanneer jy dit die volgende dag uitgehaal het, sit die bak in ‘n ander bak met yskoue water en ysblokkies in, sodat die vloeistof koud bly te midde van die oefening.
- Vir die deeg:
- 6 koppies koekmeel
- 6 teelepels bakpoeier
- 90 g margarien
- 300 ml melk
- 300 ml water
- 1 teelepel sout
- ± 1.5 liter sonneblom olie
Verhit (nogal baie warm, maar nie kook nie) genoeg sonneblomolie in ‘n pot om die sistertjies in te braai.
Meng die koekmeel, bakpoeier en sout.
Vryf margarien in met jou vingers.
Sny die melk en water in die meel in.
Moenie die meel te veel hanteer nie, hoe minder jy dit hanteer hoe beter.
Rol dit uit op ‘n ligweg-meel-gestrooide oppervlak tot so 5 mm dikte.
Sny die deeg in repe van 5 cm breed en 10 cm lank (net ‘n riglyn, dimensioneer na gelang van smaak).
Sny die repe verder om elk twee bene te hê.
Vleg die bene en druk dit styf vas aan die oop kant. Hou dit onder ‘n klam doek terwyl jy bak.
Bak die gevlegte outjies in die olie tot altwee kante ‘n mooi karamel kleur het.
En nou vir die tweede geheim: Die koeksister moet nog kook en borreltjies maak, dan moet jy dit al in die yskoue stroop onderdompel het, soveel so dat jy hom sal hoor stroop trek.
Haal die koeksister na so minuut uit.
Die koeksister behoort baie swaarder te voel as jy hom uithaal.
Gebruik verskillende implemente om die koeksisters in die olie en in die stroop te hanteer, vertrou my, jy wil nie stroop in die olie kry nie.
Resep en foto: Jacoline Nortje