KOEKSISTERS MET WARM STROOP
Resep geplaas deur: Rina Kleinhans
Foto: Elaine Steyn Steyn
2de foto: Retha Fouche – Smaak héérlik!! Dankie vir die raad en resepte!!
Ek kry hierdie koerant uitknipsel van 1947 tussen my oorl. Mammie se resepte.
- 2 koppies koekmeel
- 1 desertlepel bakpoeier (12,5 ml)
- 1 desertlepel suiker (12,5 ml)
- 1 desertlepel botter (12,5 ml)
- 1 eier
- knippie sout
- ¾ koppie melk
- olie vir gaarmaak
- Vryf die botter met die vingerpunte in die meel in, voeg die bakpoeier en suiker by.
- Maak aan met melk waarin die eier geklits is. Meng goed en laat rus die deeg – uur of langer as jy tyd het.
- Rol die deeg uit, sny en vleg. Moenie deeg teveel hanteer en rek nie.
- Bak in warm olie tot ligbruin.
- Stroop:
- 4 koppies suiker
- 2 koppies water
- 1 eetlepel goue stroop
- knippie wynsteensuur
- Kook die bestanddele saam vir 5 minute en dompel die warm koeksisters in die warm stroop.
- Haal uit en laat koud word voor bediening. Bere in die vrieskas en bedien yskoud.
- Nota: Kan ook bietjie suurlemoensap by die stroop sit nadat dit klaar gekook het, om die soet bietjie te breek, begin maar by so 30 ml en proe, moenie teveel insit nie.
- Nota: Elaine Steyn Steyn
- Wou vinnig koeksisters bak, nie tyd gehad vir my gewone resep nie. Het hierdie resep van julle probeer en dit is absoluut awesome. Ek het 15 ml suurlemoensap by stroop gevoeg. Deeg is baie pap, so ek het baie meel vir uitrol gebruik. Sal dit beslis weer maak. Dankie vir resep
- Nota: Ilzette Feyt
- Die deeg is redelik taai as jy hom meng, nadat hy gestaan het vir uur, strooi meel op toonbank bietjie, bietjie by tot hy nie meer aan hande en tafel vas klou nie. Nog iets wat ek geleer het met die resep
- Nota: Kiti de Jager
- Ek het (toe my hande nog kon houtwerk doen) koeksister snyers gemaak. Hierdie is die enigste resep wat ek gemaak het. Die deeg is nie KNIE deeg nie. Jy hanteer dit liggies, soos skondeeg. Druk net bymekaar.
- Die stroop maak jy aan, sit eenkant neer (nie in yskas) maak jou deeg, laat deeg sommer op die counter rus vir 30 minute, rol uit, vleg en bak en doop in warm stroop.
- Vinnig, maklik vir lui mense soos ek. En dis HEERLIK. Die ander resep, die een wat jy stroop moet in yskas los oornag en koud hou, ag nee wat. Te veel moeite.
Category:



Steranys in die stroop maak dit ekstra lekker. Hierdie is ‘n wenresep, probeer hom gerus