KLEIN JOGURT YSKASTERT
- Oorspronklike resep:
- 500 ml jogurt
- 1 blik kondensmelk
- 3 – 4 eetlepels margarien
- 1 pakkie Tennisbeskuitjies, gekrummel
Smelt botter en voeg koekies by, meng goed deur tot die koekies aangeklam is.
Voer die gesmeerde bak met koekies uit deur die krummels met ‘n glas mooi in die tertbak vas te druk om ‘n kors te vorm.
Meng die jogurt en kondensmelk en skep in die kors.
Bak by 180°C vir 10 minute of mikrogolfoond vir 4 min.
Laat afkoel en plaas in yskas.
Nota:
Ek het 1 blik bloubessies, gedreineer ingemeng en 2 Flake sjokolades ingekrummel. En in ‘n silcoon ringpan gebak met die vulsel in die pan en die koekies bo-op sodat wanneer ek dit uitkeer, die koekies onder is as basis.
Foto 1: Francoise Stephanie Strydom
Foto 2 en notas – Stien Rust:
Dis nie ‘n groot tert nie, mens sal dalk 8 – 10 porsies uitkry. Dis was nie erg soet nie, dink die bloubessies het die soet effe verbloem.
Dinge wat ek anders gedoen het:
Ek het 1 blik bloubessies, gedreineer ingemeng, net ‘n paar oorgehou vir bo-op.
Het nie die sous weggegooi nie, maar verhit met so amper 2 teelepels Maizena en ‘n ½ teelepel suiker en vir versiering oor gedrup.
Het net 1 Flake sjokolade ingekrummel – ook bietjie oorgehou vir versiering.
Het nie ‘n hele pak Tennisbeskuitjies gebruik nie, my bak was baie klein. Seker so 5 oorgelos.
Ek het die tert ook gebak met die vulsel onder en die koekies bo. Het nie ‘n vormpan of silikoon een nie. Het ‘n kleinerige glasbak met ‘n glas in die middel gebruik. Moet sê met die glas wat toe langer as die bak is, was dit ‘n gesukkel om vir tert heel uit te kry.
Het die beskuitjie-mengsel bo-op geplaas en saam gebak, sal volgende keer seker maak my margarien is genoeg (sommer geskat) en liewer net die tert alleen bak en die beskuitjiemengsel opsit net voor ek dit in die yskas plaas om heeltemal af te koel voor mens dit omkeer uit die bak. Of net bak met die beskuitjiekors onder in die pan soos normaal.
Het die tert in die gewone oond gebak vir 15 minute en toe in die oond gelos om ‘n tyd lank af te koel. Het die baktyd langer gemaak oor mense gesê het dit sal nie stol nie.
Sal dalk volgende keer 10 ml gelatien aanmaak met bietjie warm water, afkoel en by die jogurtmengsel inmeng.