KLAM WORTELKOEK MET ROOMKAAS LAE
Hiermee wil ek vir elke een wat my vandag geluk gewens het met my verjaarsdag, baie baie dankie sê, julle het my dag so spesiaal gemaak, dit is altyd so lekker om almal se goeie wense te lees, en dan weet ek sommer, met al die goeie wense kan dit net ‘n wonderlike jaar wees wat voorlê. Ek het hierdie koek gebak want daar was 2 bestellings en ek wou net 1 koek bak toe kombineer ek sommer die twee resepte met groot sukses, regtig heerlik… geniet dit baie en nogmaals baie dankie.
Bak die koek ‘n dag voor die tyd, dan is hy op sy lekkerste die volgende dag.
- Klits goed saam tot lig:
- 3 eiers
- 375 ml bruinsuiker
- Voeg by en klits goed saam :
- 250 ml olie
- 15 ml asyn
- Sif saam in aparte bak:
- 500 ml bruismeel
- 5 ml koeksoda
- 5 ml bakpoeier
- 5 ml neutmuskaat
- 7 ml kaneel
- Ekstra:
- 4 meduim wortels grof gerasper
- ½ koppie pitlose saltanas
- ½ koppie bosbessies (cranberries)
- 125 ml gekapte gemengde neute
Voeg meel- by eiermengsels en meng goed.
Voeg die wortels, saltanas, bosbessies en neute by.
Meng goed en sit in gesmeerde 20 cm losboom koekpan.
Bak in voorverhitte oond op 160º C vir 75 minute.
Haal uit die oond, maak die klamp los en lig die sirkel af, los om amper heeltemal af te koel , sny in twee lae, haal die onderste ring van die pan uit en laat heeltemal afkoel.
- Maak die volgende vulsel:
- 250 g roomkaas (ek verkies die blok roomkaas)
- 1 x 397 g blik kondensmelk
- 80 ml suurlemoensap
- 5 ml vanilla geursel
- skuimpies en ekstra neute vir versiering
Klits die roomkaas en kondensmelk saam tot goed glad.
Voeg die suurlemoensap en vanilla geursel by en klits vinnig vir 2 minute.
Plaas die eerste laag van die wortelkoek terug in die losboom pan, skep die helfte van die vulsel oor die laag, sit die volgende wortelkoek laag bo-op en skep die res van die vulsel bo-op.
Plaas in die yskas vir ‘n paar ure vir die vulsel om te stol.
Haal die koek uit die losboom pan, plaas op ‘n opdienbord, en versier met skuimpies wat fyn gemaak is en gekapte neute na smaak.
Nota:
Ek versier net voor ek bedien, want die skuimpies is geneig om te smelt.
Geniet dit baie.
Resep en foto: Rina Kleinhans
2de foto: Suenell Liebenberg
Tannie Rina, tannie was glad nie verkeerd oor die wortelkoek nie, nie self geproe nie, maar vriendin sê was lekkerste een wat sy nog geëet het.