KETO SCHNITZELS
Daar is ‘n sekere winkel in SA wat ongelooflike hoender, vark en beef schnitzels verkoop – net reg om in die oond te druk of in die pan te braai! Ek het gereeld hulle hierin ondersteun…veral op ‘n Vrydagaand na ‘n lang week van skoolgee. Ongelukkig as jy keto/low carb/diabeties is, is hierdie schnitzels nie ‘n opsie nie – maar dan maak ons ons eie! So hierdie is ‘n resep vir keto/low carb schnitzels-gebruik enige dun gekapte vleis wat jy wil! En dis flippen lekker.
- 6 stukke vark/beef/hoender, dun gekap
- Droë bestanddele:
- ¾ koppie amandel/sonneblom meel
- 2 teelepels Everything-but-the-bagel seasoning (of 2 teelepel swart sesamesaad, 1 teelepel knoffelvlokkies en 1 teelepel growwe sout, gemeng)
- 2 eetlepel gerasperde Parmesan kaas
- 1 teelepel droë grasuie
- 1 teelepel droë pietersielie
- Nat bestanddele:
- 1 eier
- 50 ml water
Klits die eier en water in ‘n vlak bak saam. Meng die droë bestanddele saam in ander bak.
Doop die schnitzels eers in die eiermengsel, en dan in die droë mengsel (beide kante).
Plaas in die yskas vir minstens 30 minute, of totdat jy dit wil gaarmaak.
Braai die schnitzels in olyfolie of klapperolie vir 4 – 5 minute weerskante tot goudbruin en gaar.
Bedien met slaai en sous van jou keuse.
Resep en foto: Ilze Jacobs