KETO KLAPPERYS
Ek het ‘n rukkie gelede ‘n post op facebook gesien oor kerk basare en die kos wat daar verkoop word. En toe begin ek dink ek aan my kleintyd gunstelinge wat ek altyd eerste met my warm 50c gaan soek het: fudge en klapperys! En toe moes ek dit natuurlik maak. So hierdie is my klapperys resep. Keto/low carb en diabeet vriendelik.
- 200 g fyn klapper
- ½ koppie versoeter van jou keuse
- 8 eetlepels klapperolie
- 1 teelepel vanilla geursel
- 2 teelepels moerby/aarbei geursel
- 1 – 2 druppels pienk voedselkleursel
Meng die klapper, versoeter en olie goed saam. Verdeel die mengsel tussen 2 bakke. Voeg die vanilla geursel by die een helfte en roer goed.
Druk die mengsel goed vas in ‘n 20 x 10 cm bak, uitgevoer met bakpapier.
Meng nou die moerby/aarbei geursel en voedselkleursel by die ander helfte van die klappermengsel, skep dit bo-op die vanilla laag en druk goed vas.
Laat stol in die yskas (1-2 ure).
Haal versig uit die pan en sny in blokkies. Bêre in die yskas.
Nota:
Die klapperys is meer bros en nie so stewig soos die gewone suiker resep nie. Maar heerlik.
Foto en resep: Ilze Jacobs