Your Recipe Blog

KERRIEKRAP

KERRIEKRAP

Mosambiekse seekrap word lewendig by visstalletjies in Maputo en elders verkoop. Sommiges is baie groot, die twee gevaarlike knypers met seegras vasgebind.

  • 5 krappe, ongeveer 150 mm in deursnee
  • 3 groot uie, in skywe gesny
  • 3 eetlepels appelkooskonfyt
  • ¼ koppie druiweasyn
  • 60 ml olyfolie
  • 2 blikkies klapperroom, 400 ml elk
  • 3 lang Franse knoffelbrode in foelie of 2 groot Ciabata brode

Gebruik ‘n vleishamertjie om die rugdoppe van die krappe te kraak, om die borsstuk met knypers en pote af te breek van die agterstewe en binnegoed wat weggegooi word.
Breek die pote en knypers af van die borsstuk wat baie vleis bevat.
Kraak die pote, knypers en borsstuk met die hamertjie om die sousie te laat indring, dit vergemaklik ook die eet daarvan later aan tafel. Sit die stukke in ‘n emmer water vir ‘n uur of twee om ontslae te raak van stukkies van die dop en sand.
Gebruik ‘n borseltjie om die stukke verder goed skoon te kry, hou eenkant.

  • In ‘n botteltjie meng die kerriemengsel:
  • 2 – 3 eetlepels matige kerriepoeier
  • 1 eetlepel fyn koljander
  • 2 teelepels fyn komyn
  • 1 eetlepel borrie
  • 2 teelepels sout
  • 2 teelepels peper
  • In ‘n vysel stamp en kraak:
  • stuk pypkaneel
  • 4 kruienaeltjies
  • 4 steranys sade
  • 6 kardomom peule
  • 30 mm gemmerwortel
  • 4 knoffelhuisies

Braai die uie skywe in die olyfolie tot mooi deurskynend, gebruik ‘n kastrol groot genoeg om al die bestanddele te kan vat.
Voeg by die uie, die appelkooskonfyt en druiweasyn, prut ‘n rukkie.
Voegnou die kerrie- en kruiemengsel by en laat goed deurkook.
Voeg die  klapperroom by en prut tot alles gemeng en ‘n laaang dikkerige sous gevorm is.
Gooi die skoongemaakte krapstukke in die pot en kook vir 20 minute.
Proe aan die sous en geur indien nodig, gooi ook water by as die sous min lyk.

Die tafel vir ‘n kerriekrap ete word bietjie anders gedek as normaalweg.
2 groot opdienskottels vir die krap aan weerskante van die tafel.
2 groot bakke vir die leë doppe.
2 bakke met warm suurlemoenwater om die hande te spoel.
2 neutkrakers, ‘n paar vurke en baie papier servette, borslappe word sterk aanbeveel.
Geen ander eetgerei is eintlik nodig nie net gewillige hande, alles binne maklike bereik van al die eters, aangesien daar gewoonlik nie tyd is vir aangee nie.
Die warm gemaakte Franse brode kan gesny word in lang skuins snye van so 30-40 mm wyd.
Ciabata is lekker, sommer in hompe gebreek.

‘n Uitnodiging vir die gaste om te kom eet is gewoonlik onnodig, want teen die tyd wat ek uit die kombuis uit skree, “Okei die kos is reg, gaan was julle hanne en sit in julle tanne” dan is dit al klaar gedoen en almal staan om die tafel en hande vashou.
Die algemene stemming by ‘n Kerriekrap ete is ook anders as by ‘n gewone ete.
Min word gepraat, baie uitroepe en ander waarderende geluide van pure genot.
En later skaterlagte as opgekyk word van die borde en tafelgenote se kerriebekke gesien word.

Foto en resep: Hannes Smith

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page