KERRIEHOENDER HERDERSPASTEI MET PAMPOEN EN BLOMKOOL BOLAAG
‘n Lekker “low carb/keto” resep vir ‘n koue wintersaand, maar maak dit nes jy wil!
Gebruik ‘n ovaal bak 40 cm deursnee.
- Vulsel:
- 1 ui, gekap
- 2 eetlepels botter of olie
- 2 eetlepels kerriepoeier
- 1 eetlepel borrie
- sout en peper
- 500 g hoendermaalvleis
- 2 murgpampoentjies, gekap
- 1 klein wortel, gekap en opsioneel
- 150 ml water
- 2 hande vol babaspinasie
- 2 eetlepels lae suikervrye/keto blatjang
- Bolaag:
- 1 ½ koppie pampoen, in stukke gesny
- 400 g blomkool
- 150 ml water
- 80 ml room
- sout en peper na smaak
- 1 ½ teelepel borrie
Verhit die olie of botter in ‘n groot genoeg pan en braai die uie tot ligbruin. Voeg die kerriepoeier en borrie by die uie en braai vir 4 – 5 minute.
Voeg nou die maalvleis by die uie- en kerriemengsel en braai vir ‘n verdere 10 minute.
Voeg die murgpampoentjies, wortel, water, spinasie, blatjang en sout en peper na smaak by en prut totdat amper al die vog weggekook het. Verwyder die vleismengsel van die hitte en plaas eenkant.
Vir die bolaag, plaas die pampoen, blomkool en water in ‘n pot en kook totdat die pampoen sag is.
Dreineer enige ekstra water, en maak die pampoen en blomkool fyn met n “stick blender” of aartappeldrukker.
Voeg die room en geurmiddels by die fyn mengsel en roer goed deur.
Skep die vleis in ‘n groot genoeg oondvaste bak en bedek die vleis met die fyn pampoenmengsel.
Trek strepe op die bolaag met ‘n vurk en bak vir 40 – 50 minute in ‘n voorverhitte oond by 200ºC tot bruin.
Bedien met ‘n slaai of groente van jou keuse.
Resep en foto: Ilze Jacobs