KEIAPPEL VERWERKING
Spoel die appeltjies af en ontpit dit.
Kook die “vleis” en die stronkie apart in baie water, genoeg om die vrugte vry te laat dryf.
Nota:
Sny die appelvleis van die stronkies af. Die vleis word in konfyt verwerk en die stronkies in pektien.
Vir fynkonfyt:
Kook die appelvleis oor matige hitte totdat die vleis stukkend gedruk kan word (soos wanneer aartappels gaar is).
Gebruik ‘n groot kastrol, soos met alle konfyt, moet die inhoud verkieslik nie te diep wees nie.
Weeg die appelmoes af en voeg 1.25 kg witsuiker, vir elke 1 kg keiappelmoes by.
Verhit die appelmoes en suiker oor lae hitte en roer totdat die suiker heeltemal opgelos is.
Verhoog die hitte en kook die konfyt totdat ‘n jel begin vorm wanneer dit op ‘n piering geskep word.
Skep die skuim af aan die einde en bottel die konfyt in droë warm gesteriliseerde inmaakflesse.
Vir Keiappeljellie:
Kook die stronkies in genoeg water totdat die water lymerig is.
Moenie roer terwyl dit kook nie, dit sal die jellie vertroebel.
Syg die vloeistof deur ‘n moeselien doek, moenie dit deurpers nie.
Weeg die hoeveelheid filtraat en weeg ewe veel witsuiker af per gewig.
Voeg die suiker by die filtraat en verhit die suiker en filtraat oor lae hitte.
Roer totdat die suiker heeltemal opgelos is. Syg weer deur, sodra die mengsel kookpunt bereik het.
Kook die jellie oor matige hitte, vinnig in ‘n oop kastrol totdat dit dik van die lepel afdrup.
Giet die jellie in droë warm gesteriliseerde inmaakflesse.
Resep: Petro Borchard
Foto’s: Petro Borchard en Rina Kleinhans