KARIEN SE MELKTERT
Melktert gemaak vir my skoonpa se verjaarsdag.
- Kors:
- 3 groot eetlepels koekmeel
- 1 ½ eetlepel margarien
- 1 eetlepel suiker
- 1 teelepel bakpoeier
- 1 eier, geklits met klein bietjie water
- knypie sout
Vryf meel en margarien saam. Voeg res van die bestanddele by en meng tot ‘n slapperige deeg. Smeer die beslag in tertbak of panne. Bak in voorverhitte oond van 180°C vir so 15 – 20 minute tot gaar en mooi bruin.
- Vulsel:
- 1 liter + 125 ml melk
- 60 ml botter of margarien
- 3 eiers
- 200 ml suiker
- 40 ml koekmeel
- 40 ml mielieblom (Maizena)
- 5 ml vanilla geursel
- knypie sout
- kaneel vir bo-oor
Verhit 1 liter melk en margarien in ‘n groot kastrol.
Skei 2 van die eiers. Klits eierwitte styf en hou eenkant.
Klits 125 ml melk, oorblywende eier, 2 eiergele, suiker, meel, mielieblom en sout saam. Wanneer melk kookpunt bereik, voeg bietjie kookmelk by die eiermengsel.
Klits die mengsel by die kookmelk in die kastrol en klits met ‘n draad klitser om klonte te voorkom tot kookpunt. Voeg vanilla by.
Verlaag hitte en vou dan geklitste eierwitte by warm melkpap in. Meng goed totdat eierwitte “opgelos” is.
Skep die vulsel in die gaar tertkors en sprinkel kaneel oor na smaak.
Laat heeltemal afkoel en verkoel in yskas.
Resep geplaas deur Karien Bronkhorst
Foto: Karien Bronkhorst