KAREN SE BOVRILKOEK
Ek vermoed my verloofde het gedink “April Fool” toe ek vanmore verklaar daar sal Bovril koek in die huis wees vir ontbyt. 3 Jaar saam en hy dink steeds ek maak grappies oor koek.
As kinders in die huis van ‘n ma wat verjaarsdag koeke vir bestelling gemaak het, het ons altyd bietjie gekroek en sommer die “off cuts” van die vanielje koek met Bovril en kaas bedek en in die mikrogolf gesit om te smelt.
Die oorspronklike resep bly tog maar beter en is dood maklik om te maak.
- Koek:
- 60 g (65 ml) botter / margarien
- 65 g (75 ml) suiker
- 1 eier
- 160 g (300 ml) koekmeel
- 30 g (60 ml) mielieblom (Maizena)
- 8 g (10 ml) bakpoeier
- knippie sout
- 250 ml melk
- Bolaag:
- Marmite of Bovril, smeer na smaak
- 60 g (65 ml) botter / margarien, gesmelt
- 80 g (200 ml) gerasperde Cheddar kaas
Voorverhit oond tot 180°C.
Smeer of spuit ‘n vierkantige oondbak met 15cm deursnee.
Koek:
Sif die droë bestanddele saam.
Room die botter en suiker saam.
Voeg eier by en meng goed.
Voeg die gesifte droë bestanddele en melk om die beurt by die eiermengsel.
Bak 25 – 30 minute. (Ek haal hom op 25 minute uit, bedek met die bolaag, dan bak ek dit vir die laaste 5 minute)
Bolaag:
Haal koek uit oond en smeer met Marmite of Bovril.
Skep die gesmelte botter oor.
Strooi die kaas oor.
Sit die koek terug in die oond tot die kaas smelt het.
Bedien warm…verkieslik in die kooi met ‘n lekker koppie koffie of tee.
Foto en resep geplaas deur Karen S Homan