KANEELTORTE MET SJOKOLADEVULSEL
- Koeklae:
- 330 g (690 ml) koekmeel
- 30 ml fyn kaneel
- 435 g botter
- 400 g (500 ml) suiker
- 2 eiers
- Vulsel en Versiersel:
- 25 g donker sjokolade
- 50 g melksjokolade
- 1 liter dik room
- 30 ml kakao
- kersies en okkerneut halwes vir bo-op
- swaargewigfoelie
Berei koeklae:
Dit kan vooraf berei en in ‘n lugdigte houer bewaar word. Gebruik ‘n 22 cm koekpan om 6 swaargewig aluminium foelie rondings na te trek. Knip uit. Smeer blink kant van sirkels liggies met olie en plaas eenkant. Sif meel en kaneel saam. Klits botter tot sag en voeg suiker geleidelik by terwyl voortdurend geklits word. Klits tot romerig.
Voeg eiers een vir een by en klits tot lig en romerig. Sit meelmengsel by en meng liggies.
Gebruik ‘n slaplemmes om dun lagies van die mensel op die foeliesirkels te smeer. Plaas op bakplaat en bak in voorverhitte oond by 190ºC, sowat 12 min of tot goudbruin.
Verwyder uit oond, plaas op draadrak en trek foelie af. Bewaar vir hergebruik. Strooi 1,5 ml strooisuiker op elk van die koeklagies sodra dit uit oond kom. Herhaal tot mengsel opgebruik en daar 12 – 14 koeklagies is.
Berei vulsel:
Rasper donker sjokolade baie fyn en plaas eenkant. Gebruik ‘n groenteskiller en maak krulle van melksjokolade. Plaas eenkant. Klop die room styf.
Plaas een van die lagies op ‘n opdienbord en smeer laag room oor. Herhaal tot alle lae opgebruik is. Vou gerasperde sjokolade en kakao by oorblywende room in en smeer bo-op.
Sit die sjokolade krulle bo-op en versier met heel kersies.
Resep: Carien Delport
Foto: Judy Bester












