KAASWORS / CHEESE GRILLERS
Ek het die resep op die blog al voorheen getoets en elke keer as ek dit maak, raak dit beter.
Die nuutste is om Chilli’s ook in te sit. Ek gebruik sommer wat ek noem die winkel chilli’s (vars chilli’s) so 4 per 1 kg vleis.
Ek sny dit stukkies en maal dit saam met die vleis. Op die foto waar ek die een gesny het kan jy ongelukkig nie die chilli’s sien nie.
- 2,25 kg gemaalde varknek
- 500 g Emmenthaler kaas, in baie klein blokkies gesny
- 4½ teelepels sout
- 5 naeltjies
- ¾ teelepel salpeter
- 4½ teelepels gemengde kruie
- 2 teelepels varsgemaalde swartpeper
- 1½ teelepel gemaalde wonderpeper
- 1 teelepel tiemie
- 1 knoffelknol, skoongemaak en fyngedruk
Meng die sout en salpeter en werk dit goed by die vleis in. Laat die vleismengsel oornag staan.
Voeg die knoffel, kruie en speserye by die vleis en werk dit goed deur.
Maal alles weer fyn.
Werk die blokkies kaas goed by die vleis in.
Stop die vleis in ‘n geskikte derm van jou keuse.
Posjeer die wors vir 20 minute in water van 72ºC.
Lees die nota’s onder aan.
Maak die wors gaar soos jy verkies wanneer benodig.
Nota:
Stefaans Blaauw – Vir gerookte Kaaswors
Jy sal bietjie Quick Red CURE ook moet bysit. Pienk sout, wat jy by enige speserye groothandel te koop kry soos Freddy Hirsch, Crown national, ens. Anders is die smaak nie lekker nie.
ROOK DIE KAASWORS / CHEESE GRILLERS
So rook ek die kaaswors en enige iemand kan dit maar probeer. Jy hoef nie n roker te koop nie.
Ek het een van die “box” berokers wat jy ‘n laaitjie met watte en spirits in sit. Ek het dit die vorige keer gebruik, maar die rook was te warm vir die kaaswors en dan rook die kaas uit.
Vanaand het ek iets anders probeer in my ingeboude braai.
“Gas Burner” met ‘n pannetjie bo op, saagsels in die pannetjie.
Die saagsels maak ek nat dan smeul dit langer.
Plaas die kaaswors/cheese griller so ‘n halwe meter bokant die saagsels op ‘n rooster.
Sodra die saagsels begin smeul, maak ek die braaier se deksel voor toe.
Belangrik:
As jou cheese griller klaar gestop is, moet jy dit posjeer.
Posjeer, is om dit in warm water te kook, nie warmer as 72ºC nie.
Ek kook net vir 10 minute.
Haal die wors uit en plaas dit dadelik in ys water.
Die cheese griller kry nou ‘n heeltemal wit/bleek kleur, maar sodra dit hitte kry, kom die pienk kleur uit die vleis uit.
Laat die cheese grillers behoorlik droog word voor jy dit rook, anders vat die rook nie.
Moenie te veel rook nie, anders raak dit bitter, sodra dit begin sweet, haal ek dit af.
As jy klaar gerook het, is die cheese griller so 80% gaar.
Fotos: Koos van der Merwe
Nota op fotos:
So lyk die bleek geposjeerde cheese griller, dan my roker in die braai, dan die gerookte griller en dan die verpakte kaaswors na gerook.
Foto : Corne van der Merwe
Nota:
Dis dieselfde resep wat ek gebruik het, ek brine my vleis net in pekel mengsel vir 3 dae en dan word dit koud en warm gerook. Ek gebruik 2 g Praque powder no 1 per 1 kg vleis, met 8 liters water, peper korrels en 2 teelepels pickling spice.