KAAPSE PLATVIS (CAPE BREAM)
Ek het gisteraand vir ons hierdie “kwaainaam” vis, die platvis (want jy mag nie sy regte naam meer sê nie) gebraai en dit was uit die boeke.
Ek het net sout, peper en suurlemoen sap, na smaak, gebruik om dit te geur.
Krap die vis se skubbe af, dan kan jy die heerlike vel ook geniet.
Die lekkerste is natuurlik die kop en om die oë uit te suig.
Vlek die vis, deur van die rugkant af oop te sny, deur die kop en stert al langs die ruggraat.
Verwyder die binnegoed en krap alle bruin (bloed) in die ruggraat skoon uit. Spoel die binnekant van die vis met skoon water af.
Geur die vis met sout, peper en vars suurlemoensap na smaak.
Braai die gevlekte vis in ‘n toevourooster op skerperige kole met die vleiskant na die kole vir kleur, vir 3 minute.
Draai die vis en braai die velkant vir ‘n paar minute tot net gaar en sappig.
Vis braai baie vinnig en kan gou droog raak.
Ons het die vis bedien in ‘n bord wat bo-op ‘n ou koerant geplaas is. Wanneer jy klaar ge-eet het, krap alle grate op die koerant en vou dit toe. Siedaar geen gemors, alles netjies in n mooi pakkie om weg te gooi.
Wenk:
Krap die skubbe af terwyl die vis nog half gevries is, dan is dit makliker hanteerbaar en jy druk ook nie die vis pap nie.
Resep en foto: Gideon Louw












