INGELEGDE HEEL VYE
Kyk hoe mooi kook die pers vye.
- 4.5 kg vye
- 25 ml gebluste kalk
- 5 liter water
- knippie kopersulfaat
- 2.5 kg suiker
- 3.5 liter water
- 4 eetlepels suurlemoensap
- stukkie vars gemmer, gekneus of
- paar kruienaeltjies soos verlang
Was die vye deeglik met skoon water. Sny kruisies in die onderkant van elke vy en krap alle donker merkies af.
Maak ‘n kalk oplossing aan van 25 ml kalk op elke 5 liter water en week die voorbereide vye in die oplossing vir 24 uur. Maak seker al die vye is heeltemal onderdompel in die oplossing, plaas ‘n bord bo op die vye om seker te maak dit bly onder die oplossing.
Volgende dag, spoel die vye deeglik af, en kook in ‘n pot met water en knypie koppersulfaat vir ongeveer 20 minute.
Dreineer die water af en druk die meeste water uit elke vy.
Kook 2.5 kg suiker met 3,5 literwater, suurlemoensap, stukkie gekneusde gemmer of paar kruienaeltjies. Sodra dit kook word die vye in die kokende stroop geplaas en gekook vir ongeveer ‘n half uur.
Laat die vye net so in die stroop afkoel en laat staan oornag.
Volgende dag word dit klaar gekook tot die stroop die dikte is wat jy verkies.
Ek toets maar die stroop in ‘n koue piering, totdat dit dik genoeg is.
Verwyder die gemmer/naeltjies voordat dit warm gebottel word in vooraf gesterilliseerde bottels.
Foto en resep: Tinkie Theron
Baie dankie, ek gaan jou resep gebruik