INGELEGDE GROENVYE
- 1,25 – 1,5 kg suiker per 1 kg vrugte
- 1,5 liter water per 1 kg suiker
- 2 stukkies vars geskilde gemmer of ½ teelepel fyn gemmer per 1,5 kg vye
- 50 – 60 ml suurlemoensap per 3 kg vye
- stuk heel pypkaneel, opsioneel
- 3 – 5 naeltjies, opsioneel
Pluk die vye as dit mooi uit geswel is, maar nog nie te groot nie, maar waarvan die binnekant nog nie hol of verkleur nie. Die blommetjie op die vy se onderkant moet nog nie oop wees nie. Verkieslik voor die 10de Oktober as dit nie n baie koue winter was nie.
Spoel vye deeglik af en, en week hulle oornag in ‘n oplossing van 25 – 60 ml sout per 2,5 liter water, plaas ‘n omgekeerde bord oor die vye en sorg dat die soutwater die vye heeltemal bedek. Spoel die vye die volgende oggend goed af onder lopende koue water.
Vul ‘n groot konfytkastrol half met water en laat dit kook. Sit vye stadig in die kookwater en bedek met so twee handevol vars afgespoelde vyeblare (dit verbeter die geur en behou die kleur) en kook tot vye sag is maar nie pap nie, ±15 minute. Vrugte met skille kan ook gebruik word, maar die kooktyd in water moet klein bietjie verleng word. Kook tot ‘n tandestokkie maklik deur vy se skil steek.
Giet nou 2 eetlepels koeksoda by die vye en laat dit klaar skuim. (dit haal die haartjies af). Spoel nou vye baie goed af onder koue water. Druk elke vytjie saggies om van oortollige water ontslae te raak. Sny dieperige kruise met skerp messie aan blommetjiekant.
Berei intussen die stroop voor deur suiker op te los in die water en stadig verhit tot kookpunt terwyl aanhoudend roer. Voeg nou die gemmer stukke, kaneelstokkie en suurlemoensap by.
Sit die vye stadig een vir een in die kokende stroop en kook dit ‘n halfuur lank oor matige hitte sonder ‘n deksel. Haal die kastrol van die stoof af, sit die deksel op en laat die vye oornag in die stroop masereer.
Skep die vye die volgende oggend met ‘n gleuflepel uit die stroop en sit dit opsy. Verhit die stroop tot kookpunt en plaas die vye geleidelik terug in die kokende stroop – dit moenie ophou kook nie.
Kook die vye sowat ‘n uur lank oor matige hitte en skuim die konfyt dan af (kook ± 5 minute tot 2 uur of totdat vye glansed en vol stroop is en dit reg lyk).
Haal vye uit en plaas in flesse.
As stroop te dun is kook stroop af tot so dik soos kasterolie en vul die flesse.
OF
Wanneer stroop kookpunt bereik, sit die vye in en kook totdat stroop so dik soos kasterolie lyk.
Bottel warm in gesteriliseerde flessies en maak stroop tot by randjie van bottel vol. Draai fles op sy kop en laat afkoel.
Moet nooit flesse teen mekaar sit as hul afkoel nie, los altyd so groot moontlike spasie tussen die flesse anders hou hul aan “kook” met mekaar se hitte en jou produk mag dalk oorgaar en pap word.
Sit verkieslik in ‘n trek voor oop venster.
Dit hoef nie warm gebottel te word nie, maar maak seker jou bottels is steriel skoon om muf ens. te voorkom. As jou stroop nie genoeg is nie kan jy nog by kook of jy kan die vye vries in n roomys bak. Dit vries heerlik.
Nota:
Maak maar altyd bietjie meer sous as wat vereis vir gewig van vrugte om rede jou sous gewoonlik net te min mag wees. Ek maak vir 3 kg sous as my vrugte 2.5 kg weeg dan weet ek dis veilig.
Stroop wat oorbly in jou flesse hou jy en geniet dit oor roomys ens…heerlik!
Resep en foto: Jan Lotz