ILZE SE ELEKTRIESE DRUKKOKER HOENDER ALFREDO
Ilze: “Ek het in Januarie 2019 ‘n elektriese drukkoker gekoop (aka Instant Pot), en ek eksperimenteer gereeld met resepte! Hierdie een is regtig ‘n wenner vir ‘n weeksaand (of enige aand), gemaak van oorskiet gaar hoender, gekoopte pastasous en spagetti. Slegs 20 minute van begin tot aandete!
- ½ prei, gewas en in skywe gesny
- 20 ml olyfolie
- 15 ml botter
- ½ gaar hoender, ontbeen en in stukkies gesny
- 400 g rou spaghetti
- 1 bottel pastasous van jou keuse (ek het Alfredo gebruik)
- 2½ pastasous bottels vol water (uitgespoel met warm water)
- sout en peper na smaak
- 150 ml room
- 125 ml gerasperde kaas
Braai preie in olie en botter vir vier minute tot sag op “sauté”-stelling (of in pan op stoof).
Voeg hoender by en braai nog een minuut.
Plaas rou pasta, in die helfte gebreek, bo-op.
Giet die bottel pasta sous bo-oor rou pasta, asook water, sout en peper.
Stel op drukkoker-stelling vir 16 minute en kook tot gaar.
Laat druk afloop, roer room en kaas by en voeg sout en peper by na smaak.
Bedien saam met slaai of knoffelbrood.
Resep en foto: Ilze Garber Jacobs