HOENDERREPIES MET RYS
- 3 – 4 groot uie, in dun repies gesny
- olyfolie, vir braai van uie
- 2 koppies koolwater
- 8 groot hoenderborsies
- murgpampoentjies, in ringetjies gesny en genoeg om hoenderlaag te bedek
- 1 teelepel Marmite (of Bovril, indien nie beskikbaar)
- ½ koppie kookwater
- 1½ koppies vars of blikkies room
- sout, indien benodig
- enige soort peper, na smaak
- 1 koppie rou rys
Skil die uie (ek gebruik vier) en sny dit in repies. Braai die uie in olyfolie in ‘n pot tot dit goudbruin vertoon.
Voeg die twee koppies kookwater by die uie, sit die deksel op en laat alles bedek kook.
Daar moet sowat ‘n halwe koppie water oorbly in die pot. Die uie maak deel uit van die sous en geur die gereg.
Sny elke hoenderborsie vertikaal in die middel deur. Sny elke gedeelte dwars af soos broodsnytjies.
Berei die murgpampoentjies voor deur dit in twee mm dik wieletjies te sny. Monitor die water op die uie.
Sowat ‘n halwe koppie water moet nog in die pot oor wees bo-oor die uie.
Pak die hoenderrepies bo-op die uie (nie handevol op ‘n slag nie, want dan gaan repies aanmekaar vassit).
Strooi genoeg murgpampoentjies eweredig bo-oor die hoender sodat dit net-net bedek is
Meng een teelepel Marmite met ‘n halwe koppie kookwater en versprei dit bo-oor.
Plaas die deksel terug en laat die gereg prut op lae hitte totdat die hoender en pampoentjies gaar is.
Haal die deksel af en op hoë hitte, laat die res van die water verdamp.
Verlaag die hitte, voeg die room by die gereg en roer deur. Die room moet net lekker kook en nie brand nie.
Toets vir sout en peper. Jy mag enige soort peper byvoeg, na smaak. Ek vind dat ek altyd sowat ‘n teelepel sout moet byvoeg.
Geniet die gereg saam met gaar rys, gekook volgens jou metode. Skep van sous in die pot bo-oor die rys voordat jy dit bedek met die hoenderrepies.
Resep en foto: Anri Douglas