HOENDERPOTPASTEI
Hierdie gedagte kom van ‘n herderspastei af, maar is heerlik met die hoender.
- Vulsel:
- 8 hoender filette, opgesny
- 3 koppies water
- 4 teelepels hoenderspeserye
- 3 uie, opgekerf
- olyfolie, vir braai
- 3 koppies gevriesde gemengde ertjies en mielies
- 1 pakkie van elke roomhoender- en sampioen soppoeier, gemeng
- 2 hoogvol desertlepels koekmeel
- 2 koppies water
- Aromat en swartpeper, na smaak
- Kapok aartappels:
- 8 aartappels, geskil en opgesny
- 1 hoogvol eetlepel botter
- melk, soveel soos verkies
- sout en peper, na smaak
Plaas die hoender filette in ‘n groot genoeg pot op die stoof, voeg die water en speserye by en kook tot gaar.
Verwyder van die hitte laat die hoender en aftreksel afkoel.
Verwyder die hoender uit die aftreksel en sny dit op in blokkies, giet die aftreksel in ‘n bak en hou dit eenkant tot benodig.
Braai die uie in dieselfde kastrol met bietjie olyfolie tot deurskynend.
Voeg die ertjies en mielies saam met die aftreksel by die uie en kook goed deur.
Voeg die hoender by die uie en aftrekselmengsel en roer deur.
Meng die koekmeel en 3 teelepels van die soppoeiermengsel in ‘n beker, voeg die 2 koppies water by en meng goed om alle klonte op te los.
Voeg die meel en sopmengsel by die hoender en kook deur totdat die sop en meel gaar is.
Voeg nog smaakmiddels by indien verkies. Ek het Aromat en swart peper bygevoeg.
Kook die aartappels in klein bietjie water in ‘n kastol op die stoof tot sag, dreineer die water en voeg die botter, sout, peper en soveel melk soos verkies by die aartappels, om ‘n sagte kapokaartappel te vorm, maar nie te pap.
Skep die kapokaartappels bo-op die hoender in die pot, soos met herderspastei, en maak die fyn aartappel gelyk bo-op.
Nota:
Hou die droë soppoeiermengsel wat oorbly, in ‘n lugdigte houer totdat weer benodig.
Resep en foto: Alta Gunter Van Dyk