HOENDER, VARK, BOSBESSIE EN PISTACHIO NEUT TERRIEN
So my liefste Pa word 70 hierdie week, en hierdie hoender en pistachio neut terrien is op die spyskaart as deel van ‘n kaasbord “platter”. Dis dalk nog ‘n bietjie vroeg vir Kersfees, maar dink dat dit ook baie mooi op ‘n kerstafel sal lyk.
- 12 – 13 skywe “streaky” spek
- 1 ui, in blokkies gesny
- 1 eetlepel botter
- 1 eetlepel olie
- 3 eetlepels sjerrie of brandewyn
- 50 g pistachio neute, gekap
- 50 g bosbessies (cranberries)
- 500 g varkmaalvleis
- 2 hoenderborsies, in blokkies gesny
- 2 teelepels vars tiemieblaartjies
- ¾ teelepel vars neutmuskaat
- Omtrent 2 eetlepels sout (plat, nie opgehoop)
- 1 teelepel gemaalde swartpeper
Braai ui in botter en olie tot deurskynend. Voeg sjerrie en bosbessies by en kook 2 – 3 minute.
Skep in ‘n mengbak en laat afkoel.
Voeg maalvleis, hoender, neute, tiemie, neutmuskaat, sout en peper by en meng goed met jou hande deur.
Spuit ‘n broodpan met Spray en Cook, en voer die pan uit met spekrepe.
Skep die maalvleismengsel in uitgevoerdepan, en druk mooi vas, vou die spek wat oorhang bo-oor.
Draai dubbeld toe in foelie, en bak in ‘n oondbak wat halfvol gemaak is met kookwater (‘n waterbad) vir 1.5 ure by 180°C totdat dit ferm voel.
Gooi al die vloeistof af, en sit oornag in die yskas, met 2 tot 3 swaar blikkies bo-op.
Sny die volgende dag in skywe en bedien met blatjang, mosterd of relish.
Resep en foto: Ilze Garbers Jacobs