HOENDER- EN SPEK QUICHE
Heerlike ligte ete saam met ‘n slaai.
- 1 rol gekoopte skilferkorsdeeg, vooraf ontdooi in yskas
- 500 – 750 ml gaar hoendervleis, in blokkies gesny
- 6 geklitste eiers
- 250 g fyngesnyde spek
- 2 – 3 fyngekapte uie
- 175 ml agurkies, in ringetjies gesny
- 250 ml room
- 125 ml melk
- 60 ml koekmeel
- sout na smaak
- peper na smaak
- knippie rooipeper, opsioneel
- 300 ml gerasperde kaas
- 100 ml ekstra gerasperde kaas
Rol die deeg effens uit en vorm in tertpan wat gesmeer is met smeer of gespuit is met Spray ‘n Cook. Prik die kors met ‘n vurk en plaas in oond wat vooraf verhit is tot 180 ºC.
Bak vir ongeveer 10 min tot 12 minute of tot kors strooikleurig is en plaas eenkant om af te koel terwyl vulsel berei word.
Wanneer afgekoel, strooi die ekstra gerasperde kaas op die bodem van die kors. Braai die spek tot gaar en skep uit. Braai uie in dieselfde pan as spek en skep uit.
Meng nou al die bestanddele saam en skep die mengsel op die kors.
Bak vir ongeveer 45 minute of tot vulsel gestol het.
Nota:
Ek het nie Cheddarkaas in die huis gehad nie en het Goudakaas gebruik. Dit het steeds heerlik gekom.
Resep en foto: Elma Brittz-Venter