HEERLIKE VERSIERSEL OP DIE STOOF
- 250 ml melk
- 90 ml koekmeel
- 150 ml suiker
- 250 g bak margarien of botter
- 5 ml vanilla
- Opsioneel:
- 50 ml strooisuiker
Meng die melk en koekmeel in ‘n bekertjie en gooi deur ‘n siffie in kastrol.
Voeg suiker by en verhit oor lae hitte tot kookpunt, jy moet die hele tyd roer.
Kook vir so minuut tot dik en gaar, maak seker daar is geen klontjies in nie.
Skep in bakkie en sit in die yskas om heeltemal af te koel.
Klop margarien met klitser tot sag en romerig en voeg nou die afgekoelde mengsel in twee dele by, terwyl jy die hele tyd klits.
Dit sal slap lyk maar hou jy maar net aan met klits.
Dit sal die tekstuur van geklopte room kry, dan weet jy dit is amper reg.
Klits nou die vanilla by en proe, indien jy dit soeter wil hê, kan jy strooisuiker byvoeg.
Nota:
Hierdie is ‘n fantastiese versiersel vir die rooi fluweelkoek maar vir enige koek of cupcakes werk hy baie goed.
Die versiersel is op sy lekkerste as hy so uur of wat gestaan het.
Geniet dit
VIR SJOKOLADE VARIASIE:
Voeg 50 ml kakao by en verminder die meel met 50 ml. Meng die kakao met bietjie melk en voeg by die mengsels.
ROOMKAAS VARIASIE:
Petré Van Jaarsveld – Ek het die suiker met versiersuiker vervang en ‘n ¾ bakkie roomkaas bygevoeg, kook verder net soos die resep sê..
LEMOENVERSIERSEL:
Het ook die Heerlike versiersel op die stoof gebruik en ook ‘n bietjie verander…
- Gebruik die volgende in die plek van die 250 ml melk:
- ¾ koppie lemoensap
- ¼ koppie melk
- Voeg die volgende by die eindproduk:
- gerasperde skil van 1 lemoen
- 50 g gekapte pekaneute
GOEIE RAAD: Petré Van Jaarsveld –
Gebruik ‘n gel of poeier kleursel. Die gewone botteltjies koek kleursel saam met die margarien het myne laat lyk of dit skif.
Gebruik dan ook wit margarien, Geel margarien verander die kleur. Kleur die gedeelte wat eers gekook moet word, bietjie donkerder as die kleur wat jy wil hê.
Kan ek karamel bysit: Ja jy kan – meng dit eers met die deel wat gekook word.
Laat heeltemal koud raak en klits dit dan saam met die botter.
Met roomkaas versiersel – klits jy die roomkaas en vanieljegeursel eers saam met die botter en voeg dan die koue gekookte gedeelte by.
Notas en foto’s:
Foto: Petré Van Jaarsveld – Die gekookte versiersel is heerlik. Sal nie sommer weer enige ander versiersel gebruik vir koeke, cupcakes en tamboesies nie. Baie goeie plaasvervanger vir room. Raak nie waterig nie, en behou die styfheid. Val ook glad nie plat nie.
Foto: Suryna van der Walt – My ma het ‘n rolkoek gemaak en besluit om die versiersel te gebruik. Dit werk fantasties en die smaak is nog beter.
Foto: Corrie Venter – My cupcakes met die gekookte versiersel. Was maar baie skepties oor dit maar sal dit beslis aanbeveel. Baie baie lekker!!
Frikkie Jones: Het julle al versiersel op die stoof gemaak en styfgeklitsde swiss meringue daar ingevou? Hulle noem dit creme chiboust. Dit help dat die versiersel nog beter vorm hou.
Anthea Natasha Anthony Fredericks
Dankie Rina vir die versiersel op die stoof resep.Dit is fantasties en die beste ooit.Dit is roomerig en nie so soet nie nie en dit bly styf.My versiersels het altyd gesmelt in die verlede maar die een is n wenner.Dit is my koek wat ek vir moedersdag gemaak het n lemoen koek.My familie was baie be indruk lol.