HEERLIKE SPINASIETERT
My spinasie braaigereg wat ek gisteraand gemaak het. Ek het my oorspronklike spinasietert resep aangepas en hier is die resultate. Julle KAN dit maar maak, my man het deur die nag opgestaan en die ander helfte gaan eet, sê hy is bang iemand eet dit môreoggend op voor hy wakker word. 🙂
Genoeg vir 6 – 7 mense as jy ander bykosse het. Gebruik ‘n 20 cm deursnit oondbak.
- 1 of 2 bossies (pakke) spinasie – ligweg opgekap (of jy 1 of 2 gebruik, jy hoef nie res van die bestanddele aan te pas nie)
- 5 stukkies repiespek, opgekap
- 5 sampioene, opgekap
- 1 groot ui, opgekap
- 1 pakkie wit uiesoppoeier
- 1 houertjie suurroom
- 1 houertjie gladde maaskaas
- 3 eiers
- 1 teelepel mosterdpoeier
- peper na smaak
- 1 koppie Cheddarkaas, gerasper
- ekstra Cheddarkaas vir bo-oor
- Opsioneel:
- 1 blik opgesnyde aspersies
Plaas die spinasie, spek, sampioene en ui in ‘n pot en kook vir 15 minute – dreineer en plaas eenkant. (ja niks van vooraf braai van uie nie, kook alles)
Meng die soppoeier met die suurroom en laat staan vir 10 minute (indien jy nie suurroom het nie, meng 1 houertjie room met 1 eetlepel suurlemoensap en laat staan vir 10 minute).
Voeg die maaskaas, eiers, mosterdpoeier en peper by en meng goed deur. Voeg die spinasiemengsel en 1 koppie Cheddarkaas by en meng alles ligweg deur.
Giet die mengsel in ‘n bak gespuit met kleefwerende kossproei en bak in ‘n voorverhitte oond by 180ºC vir 30 – 40 minute of tot dit gestol en bruin bo-op is.
Sprinkel ekstra gerasperde kaas oor die gereg wanneer dit uit die oond kom.
Nota:
Ek het 2 swart olywe opgekap en bo-oor gesstrooi vir versiering met bietjie paprika.
Opsioneel – indien verkies kan jy opgesnyde aspersies by die spinasiemengsel voeg.
Hierdie gereg kan deurgaan as ‘n volledige aandete saam met kapokaartappels en lekker mengelslaai.
Resep: Ida Rautenbach Welgemoed
Foto: Elna Erasmus












