HEERLIKE SOUTHAPPIES
“Hierdie héérlike southappies staan in ons familie bekend as “Kerriehoenders” – tot groot konsternasie van die aangetroudes, want daar is geen hoenders daarby betrokke nie.”
- 1 pak skilferkorsdeeg, ontvries
- 60 g botter of bakkunsbotter (bak margarien)
- 1 eetlepel kerriepoeier
- 1 medium ui
- 60 g aartappelskyfies
Sny ui fyn. Mikrogolf uie, botter en kerriepoeier vir drie minute.
Skep die uie uit en gebruik dit later vir enige ander doel.
Rol die deeg effens uit op meelbestrooide oppervlakte. Verf die deeg met botter- en kerriemengsel. Sny deeg in die helfte, lengte-gewys. Sny strokies van een sentimeter in breedte.
Kap aartappelskyfies baie fyn en druk liggies op deeg vas. Lig elke strokie versigtig en vou (soos op foto) en pak op ‘n gespuite bakplaat. Gee skyfies wat afval vir jou honde, hulle sal dink dis krismis. Bak vir 20 minute teen 180 °C.
Nota:
Maak ongeveer 50 kerriehoenders.
Ek het dit in ‘n lugdigte bak en ons smul meer as ‘n week heerlik daaraan. Dit hou ongelukkig nooit langer as ‘n week in ons huis voor dit alles oogeeet is nie… maar dit bly heerlik bros.
Resep en foto: Erica Cosijn












