HEERLIKE SLAAISOUS VIR BLAARSLAAI
Ek kry hierdie resep in ‘n baie ou boekie wat deur die Rusoord ouetehuis uitgegee is.
Ek het dit gemaak, en dit is baie lekker, onthou net om dit lekker te kook sodat die asyn se smaak bietjie kan demp, maar ek moet sê wanneer mens dit saam met die slaai eet, proe mens nie die asyn so skerp nie en is dit heerlik. Hierdie slaaisous kan vir ‘n paar dae in die yskas gehou word.
- ½ koppie water
- ½ koppie asyn
- 1 eier geklits
- 5 teelepels suiker
- ½ teelepel sout
- 1 teelepel mosterd
Klits die water, asyn en eier goed saam en kook in ‘n dubbelkoker.
Oppas vir skif, roer vinnig en aanhoudend totdat dit kook.
(Ek het dit in die mikrogolf gedoen en elke 30 sekondes geroer.)
Haal van die stoof af en sit die suiker, sout en mosterd by.
Roer goed en laat afkoel.
Gebruik die slaaisous oor gekerfde blaarslaai of enige slaai wat met blaarslaai gemaak word.
Hard gekookte eiers in skywe gesny is ook baie lekker hierby.
Nota Hannatjie Adam:
Dit is ook heerlik met uie wat bietjie opgekook is en water afgegooi. Gooi sous oor en slaai staan oornag, heerlik. My man was lief vir dit so of met die fyn blaarslaai, hy het dit geëet saam met “dumpling” gekook op vleis. Lekker soet suur smaak.
Foto: Rina Kleinhans