HEERLIKE ANYSBESKUIT
- 375 ml melk
- 250 g botter of margarien (ek gebruik helfte helfte)
- 1½ liter louwater
- 2½ pakkies kitsgis
- 37 ml sout
- 2,5 kg koekmeel
- 2 eiers
- 1 blik kondensmelk
- 200 ml witsuiker (jy kan 250 ml byvoeg ek wou dit nie so soet hê nie)
- 25 ml suurlemoensap
- 100 g semels (opsioneel)
- 15 g anyssaad
Kook die melk, botter (margarien) en suiker tot opegelos en laat afkoel (as dit te warm is vernietig dit die gis se werking)
Meng die droë bestanddele saam. Klits die eiers, suurlemoensap en kondensmelk saam. Voeg die melkmengsel en geklitste eiermengsel by die droë bestanddele. Meng goed deur.
Knie vir omtrent 15 minute. Die deeg moet redelik slap wees, indien te droog is, kan nog water bygevoeg word. Plaas die deeg in ‘n bak, bedek en plaas in ‘n warm plek, laat rys tot dubbel die hoeveelheid.
Berei panne voor en plaas ‘n laag bakpapier onder in die panne,(lees nota onder aan) dit verhoed dat die beskuit brand. Ek gebruik vier panne- het dit altyd in bolletjies gerol maar hierdie keer het ek die panne half gevul in die vorm van brood.
Laat dit rys tot pan amper vol is, bak teen 180˚C vir so 50 min. of tot gaar toets.
Laat effe afkoel, keer die gebak uit en sny in beskuite.
Droog die beskuit uit en geniet.
Nota:
Die hoeveelheid water kan aangepas word, dit hang af waar julle bly en hoe droog of vogtig die lug is julle area. Bedek die panne met ‘n vadoek of koerantpapier en plaas op houer met kookwater en sit op plek waar die son skyn, dan rys dit gouer.
Ek voer my panne onder uit met dubbellaag koerantpapier en dan ‘n laag waspapier of bakpapier net aan onderkant.
Resep en foto: Betsie Ferreira